Die
gemeente in Korinthe het sekerlik meer praktiese probleme gehad as enige ander
gemeente waarvan ons lees in die blaaie van die Nuwe Testament, maar wat
absoluut fassinerend is, is die manier wat Paulus hierdie probleme aanspreek.
Hy
identifiseer een enkele denkfout as die wortel van al die probleme in die
gemeente in Korinthe, naamlik die idee dat mense kennis en wysheid onafhanklik
van God kan verkry deur hulle eie intellek en intelligensie en dat hierdie
gesogte kennis en wysheid selfs geestelike en morele probleme kan oplos.
Paulus
self was 'n baie intelligente en geleerde man in menslike terme, maar hy het
nie die probleme in Korinthe probeer oplos deur "oorredende woorde van menslike
wysheid" nie (1 Kor. 2:4). Hy het nie die situasie benader as 'n
sogenaamde "godsdiens ekspert" nie, maar het in absolute
afhanklikheid van God en met vrees en bewing sy briewe aan hulle geskryf. Hy
het baie goed verstaan dat net die kennis en wysheid wat van God self kom via
gebrokenheid en geloof hierdie gewaande slimmigheid van die Korinthiërs kon
ontmasker.
Dit is
eers wanneer ons erken dat ons geen kennis en wysheid onafhanklik van God het
nie dat die fontein van Goddelike kennis en wysheid oopgaan in ons binneste en
ons skielik vind dat daar vir dosyne tameletjies in gemeentelewe (en ook in die
gesin) kosbare oplossings is in Christus. Maar dan gaan dit beteken dat ons
eers ons eie "kennis en wysheid" sal moet opgee.
"Laat niemand homself
mislei nie: as iemand meen dat hy wys is onder julle in hierdie wêreld, laat
hom dwaas word, sodat hy wys kan word." 1 Kor. 3:18
"As iemand meen dat hy enige kennis het, weet hy
nog niks soos 'n mens behoort te weet nie." 1 Kor. 8:2
No comments:
Post a Comment