Ons soek so maklik na sekuriteit (insluitende
geestelike sekuriteit) in die bekende, in tradisie, in instansies, in
"belangrike" en geleerde mense
en leiers en in korporatiewe entiteite wat vir ons lyk of dit lankal staan en
nog lank gaan staan. Daar voel ons sommer
gou veilig en maak ons onsself vinnig wys dat ons hier behoort en 'n tuiste kan
vind vir ons bevreesde harte in 'n onseker en gevalle wêreld. Is dit egter die prentjie wat die Nuwe
Testament skets m.b.t. sekuriteit? Kom ons kyk na 'n paar tekste:
"Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore
Seun wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom verklaar." Johannes
1:18
"Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook
saam met My sal wees, sodat hulle my heerlikheid kan aanskou wat U My gegee
het, omdat U My liefgehad het voor die grondlegging van die wêreld."
Johannes 17:24
"Soos dit vir my reg is om dit van julle almal te
dink, omdat ek julle in my hart dra, aangesien julle almal in my boeie sowel as
in die verdediging en bevestiging van die evangelie my deelgenote in die genade
is." Filippense 1:7
Uit hierdie
tekste blyk dit baie duidelik dat God vir ons 'n heel ander idee van sekuriteit
wil deurgee. Jesus se sekuriteit was
tydens Sy aardse lewe in "die boesem van die Vader". In Sy gebed in Johannes 17 vra Hy die Vader
dat ons saam met Hom in daardie onbeweeglike en onveranderlike fort van
veiligheid sal wees. En dan maak Paulus
dit duidelik in Filippense 1 dat ons ook in mekaar se harte veiligheid en
sekuriteit moet kry.
Die veiligste
plek in die heelal is in "die boesem van die Vader" waar ons reeds
onsself bevind (sien Kolossense 3:3) en hier op aarde is ons veronderstel om ook
'n tuiste te vind in mekaar se harte.
Dit is net wanneer ons in die liefde van God vir mekaar begin ruimte
maak in ons harte m.b.t. gemeentelewe en familielewe dat ons werklike
sekuriteit op aarde kan vind op die horisontale vlak. Géén instansie, denominasie, tradisie, leier,
geestelike groepering of organisasie van watter aard ookal kan ooit dit vir ons
bied nie.
Wanneer al die
redes waarom ons by 'n sekere groep tuis gevoel het platval, bly daar net een
ding oor en dit is of ons werklik mekaar liefhet en ruimte in ons harte gemaak
het vir mekaar. Baie mense het al deur
die lang geskiedenis van die kerk tot hulle skok besef wanneer hulle vir een of
ander rede nie meer aan 'n geestelike organisasie lojaal is nie, dat daar nooit
ruimte in harte was vir hulle nie. Die
"kerk-verband" was bloot uiterlik, formeel en kunsmatig. God het 'n baie beter plan met Sy
gemeente. Gaan dink bietjie weer oor die
tekste hier bo.
No comments:
Post a Comment