'n Mens het die skrikwekkende vermoë om homself te flous en die rede
daarvoor is dat die hart "bedrieglik is bo alle dinge" (Jer. 17:9). Nie net kan jy jouself flous om te glo dat jy
nie verlossing of 'n verlosser nodig het nie (die ongodsdienstige ongelowige),
maar jy kan jouself ook bedrieg met ál jou godsdiens terwyl jy in werklikheid nog
nooit aan die voet van die kruis gekniel het nie.
"Daar is ‘n geslag wat sy
vader vervloek en sy moeder nie seën nie, ‘n geslag wat rein is
in sy eie oë en tog van sy vuiligheid nie gewas is nie. ‘n Geslag—hoe trots is sy oë, en hoe hoog is sy ooglede opgetrek!" Spreuke 30:11-13
Hoeveel mense is daar in ons generasie wat byvoorbeeld op 'n vorm of werksaansoek
sal invul dat hulle "Christen" is, maar hierdie
"Christenskap" van hulle is alles op hulle eie terme. Van die Heerskap van Jesus Christus weet
hulle niks, of wil hulle liefs nie weet nie.
Dit is so 'n generasie wat "rein is in sy eie oë en tog van sy
vuiligheid nie gewas is nie". So 'n
generasie wat al die bewegings en geluide maak van "Christene", maar
wat verstommend genoeg regkry om die eise van navolgenskap van Christus net
eenvoudig te ignoreer of weg te redeneer. So 'n generasie wat niks wil weet van
enige vorm van gesag nie en wat ouers en onderwysers nie eer of respekteer
nie. So 'n generasie wat steeds onder
God se oordeel is en grootliks dwaal m.b.t. daardie feit. Dit is 'n gevaarlike generasie, want die self-bedrog
raak 'n kultuur en binne die kultuur 'n geestelike epidemie wat aansteeklik is. Net God kan so 'n generasie se oë open. Ons het nodig om baie ernstig te bid vir
geopende oë.
No comments:
Post a Comment