Almal op aarde het 'n idee van liefde en ons dink dat ons weet wat dit
is en hoe dit veronderstel is om te werk.
Die Bybel leer egter dat dit net via die kruisdood van Jesus is dat ons waarlik
liefde kan verstaan en dat dit net die Heilige Gees is wat vir ons die dieptes
van die liefde kan openbaar wat aan daardie kruis vir mense gedemonstreer is.
"En ons het die
liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die
liefde bly, bly in God, en God in hom." 1 Johannes 4:16
"Ons het lief
omdat God ons eerste liefgehad het." 1 Johannes 4:19 (NAV)
Hierdie tekste in 1 Johannes maak dit baie duidelik dat ons net liefde
reg kan verstaan en werklik kan uitleef wanneer ons verstaan wat aan die kruis
gebeur het. Daar het die Lam van God ons
sondes gedra, die Onskuldige vir die skuldiges.
Boonop het Hy nie gesterf vir die wat Hom goedgesind was nie, maar vir
ons wat in ons harte vyande van God was. D.w.s almal van ons.
"Want as ons,
terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, veel
meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is." Romeine 5:10
Daar is soveel hartseer in menseverhoudinge en ongeag ons aandeel aan
al die pyn dink ons steeds so maklik dat óns die liefde reg verstaan en dat ander
maar net moet sien wat ons sien, dan sal alles reg wees. Die waarheid is dat ons álmal dwaal en 'n
self-gerigte idee van liefde het TOTDAT die Heilige Gees vir ons begin openbaar
wat werklik aan die kruis gebeur het.
Selfs vir ware dissipels van Jesus is dit nie 'n eenmalige gebeurtenis
nie, maar veronderstel om 'n immer verdiepende openbaring en dan ervaring te
wees. Op geen ander manier kan ons Goddelike liefde uitleef op 'n gevalle aarde
nie.
"Ons almal het
gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die
ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom." Jesaja 53:6
No comments:
Post a Comment