Daar is so baie dinge om te leer op aarde en met die
internet en Google het ons maklike toegang tot 'n wêreld van inligting. Een van die dinge wat ons egter instinktief oor
voel dat dit 'n abstrakte onderwerp is wat nie werklik bestudeer kan word nie,
is die liefde. Wat moet ons nou eintlik leer daarvan? Dit is mos maklik om te verstaan, indien nie
so maklik om uit te leef nie!
Die Nuwe Testament openbaar egter vir ons dat die liefde nog
altyd die groot onderwerp was wat God wil hê ons moet proefondervindelik
bestudeer en as't ware eksperts in word.
Ons moet nooit net in algemene terme en in die breë dink oor liefde
nie. Daarom word daar in die Nuwe
Testament so ontsaglik baie detail vir ons gegee van hoe die liefde prakties
lyk. Ons word nie net deur God geleer
dát ons moet liefhe nie, maar ook hoe ons moet liefhê. Hier is net enkele
voorbeelde:
"Beklee
julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike
ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid. Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen
die ander ‘n klag het; soos
Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen."
Kolossense 3:12-13
"Die
liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde
praat nie groot nie, is nie opgeblase nie,
handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie
verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie." 1 Kor. 13:4-5
'n Mens kan net werklik leer en ontvang as jy eers erken het
dat jy níe weet nie. Dit is eers wanneer
ons nederig, gewillig en geduldig aanmeld by die Heilige Gees se leerskool van
Goddelike liefde en verstaan dat dit die hoofvak is in God se universiteit van
die lewe dat ons ware vordering begin maak op die pad van dissipelskap. Wat is dissipelskap in wese anders as om te
leer om lief te hê soos Jesus ons liefgehad het? Ons studies oor die liefde begin en eindig by
die kruis.
" ‘n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle
liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê." Johannes
13:34
Kom ons
bly in ons harte kinders wat nog leer. Laat ons nooit dink ons is kenners van
die liefde nie. God self is ons
Leermeester in hierdie eintlike leerskool van die lewe en terwyl jy nog asem in
jou longe het, is die skool nog nie klaar nie.
No comments:
Post a Comment