Die Bybel het baie te sê
oor die verskil tussen die wyse en die dwaas, veral in die boek Spreuke. Hierdie gedeeltes is bedoel om vir ons 'n
spieël te wees van ons eie kondisie sodat ons kan bepaal of ons lewe soos die wyse
of die dwaas. Een van die kenmerke van
die wyse is dat sy woorde genesing bring en die regte pad vir ander aandui.
Dit is egter so maklik om
vas te val in sekere patrone in ons lewe soos wat ons ouer word. In ons reaksies op mense en omstandighede
begin ons dan soms dink en praat soos "die dwaas" wat die Bybel van
praat, selfs al is ons dalk werklik dissipels van Jesus.
"Daar is
een wat onverskillig woorde uitspreek soos swaardsteke, maar die tong van die
wyse is genesing." Spreuke 12:18
Die vraag is hoe kan ons losbreek van hierdie patrone en
gewoontes? In die Nuwe Testament sien ons
dat Christus ons wysheid geword het (1 Kor. 1:30). Ons het met die wedergeboorte 'n nuwe hart
ontvang en nou word ons aangemoedig om te leef uit 'n nuwe bron. Hierdie Bron is Christus self. Hy is nou ons wysheid en lewe.
"Die hart
van die wyse maak sy mond verstandig en vermeerder die lering op sy lippe." Spreuke 16:23
As dit die hart van die wyse is wat dit vir hom moontlik maak om woorde
van wysheid te spreek, is dit goeie nuus vir dissipels, want ons het nuwe harte
in Christus ontvang. Prakties beteken dit egter ons moet wegdraai van die
verkeerde bron (aangeleerde patrone en gewoontes) en in geloof begin leef uit die regte Bron. As jy nie onwrikbaar glo
dat jy in Christus toegang het tot al
die wysheid van Christus nie sal jy
nooit die ou patrone en gewoontes kan afleer sodat jy woorde van wysheid kan spreek
uit 'n nuwe Bron nie.
No comments:
Post a Comment