Dit is verandering wat begin in die hart van die indiwidu en dan van daar af ander harte in verhouding raak. Dit is ten diepste die intimiteit in die Drie-Eenheid wat deur die evangelie as't ware organies en lewend oorgedra word na die harte van die wat glo (sien Johannes 13 tot 17) en dan wyer uitkring.
Dit is so maklik om hierdie punt te mis in die Nuwe Testament en dan terug te val op die ou maniere en metodes tot verandering wat regdeur die geskiedenis van die mens gevolg is; m.a.w. verandering langs die weg van politiese, filosofiese, organisatoriese, leier-gedrewe kanale of deur godsdiens tradisies. Leiers moet wel die toon aangee, maar dan langs die Nuwe Testament se weg tot verandering! In 'n sekere sin word ons almal dan leiers, want alle dissipels van Jesus kan hierdie soort invloed uitoefen.
God se manier van verandering is so radikaal anders as die wêreld
s'n. Sy liefde, geopenbaar in die evangelie,
verlos die mens se hart toenemend van selfsug en self-gerigtheid met 'n
gevolglike verdieping van ons verhoudings.
Hierdie verdieping en verinniging van verhoudings is die enigste ware
groei, want dit alleen strook met die DNA van die Nuwe Testament;
hartsverandering met verhouding ten doel!
'n Sinvolle vraag om jouself te vra in hierdie verband is; hoeveel diep,
veilige, standvastige, betekenisvolle en groeiende verhoudings het jy in jou
lewe? Sekerlik net 'n baie klein
persentasie van jou honderde Facebook, Whatsapp en Instagram vriende! Hoeveel van hierdie verhoudings is met mense in
jou gemeente? Slegs daardie verhoudings
is eintlik jou ware gemeentelewe.
As gevolg van tydsbeperking kan 'n mens nie meer as so tien tot
twaalf sulke verhoudings op 'n slag hê nie.
Jesus self het in Sy tyd op aarde nie baie meer as twaalf sulke
verhoudings gekultiveer nie, en dan was een nog 'n Judas. Maar daardie verhoudings het uiteindelik die
wêreld verander! Miskien is dit tyd dat
ons ophou probeer om deur die wêreld se metodes die verandering te bring wat
net God in ons harte kan bring deur die krag van die evangelie.
Dink kleiner (dieper in), dink organies, dink
verhouding. Die sleutel tot kragtige
transformasie wat dinamies sal uitkring na meer mense lê nie iewers daar buite
of in nuwe projekte, planne, leiers of metodiek nie. Dit lê in die verhoudingskapasiteit
van jou eie hart. Begin by die mense wat
reeds in jou invloedsfeer is. Sommer net
daar in jou eie gesin en familie. Kultiveer verhoudingsintimiteit vanuit die
Wynstok.
"Ek is die
wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want
sonder My kan julle niks doen nie." Johannes 15:5
"Soos die Vader My
liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad. Bly in hierdie liefde van My." Johannes 15:9
Dít alleen is die dissipelskap waarvan die Nuwe Testament
praat.