Wednesday, 31 January 2018

'N RADIKAAL NUWE BENADERING TOT GEMEENSKAPSVERANDERING

Een van die mees verstommende openbarings van die Nuwe Testament is dat dit 'n radikaal nuwe benadering tot verandering van die samelewing vir ons voorhou.  Hierdie benadering is nie polities, filosofies (dit het wel filosofiese inhoud), organisatories of godsdienstig in die normale sin van die woord nie. Dit is ook nie leier-gedrewe in die eerste plek, d.w.s. dat verandering net kan kom deur die inisiatiewe en projekte wat leiers op die tafel sit, nie.

Dit is verandering wat begin in die hart van die indiwidu en dan van daar af ander harte in verhouding raak. Dit is ten diepste die intimiteit in die Drie-Eenheid wat deur die evangelie as't ware organies en lewend oorgedra word na die harte van die wat glo (sien Johannes 13 tot 17) en dan wyer uitkring.

Dit is so maklik om hierdie punt te mis in die Nuwe Testament en dan terug te val op die ou maniere en metodes tot verandering wat regdeur die geskiedenis van die mens gevolg is; m.a.w. verandering langs die weg van politiese, filosofiese, organisatoriese, leier-gedrewe kanale of deur godsdiens tradisies. Leiers moet wel die toon aangee, maar dan langs die Nuwe Testament se weg tot verandering! In 'n sekere sin word ons almal dan leiers, want alle dissipels van Jesus kan hierdie soort invloed uitoefen.

God se manier van verandering is so radikaal anders as die wêreld s'n.  Sy liefde, geopenbaar in die evangelie, verlos die mens se hart toenemend van selfsug en self-gerigtheid met 'n gevolglike verdieping van ons verhoudings.  Hierdie verdieping en verinniging van verhoudings is die enigste ware groei, want dit alleen strook met die DNA van die Nuwe Testament; hartsverandering met verhouding ten doel!  'n Sinvolle vraag om jouself te vra in hierdie verband is; hoeveel diep, veilige, standvastige, betekenisvolle en groeiende verhoudings het jy in jou lewe?  Sekerlik net 'n baie klein persentasie van jou honderde Facebook, Whatsapp en Instagram vriende!  Hoeveel van hierdie verhoudings is met mense in jou gemeente?  Slegs daardie verhoudings is eintlik jou ware gemeentelewe.

As gevolg van tydsbeperking kan 'n mens nie meer as so tien tot twaalf sulke verhoudings op 'n slag hê nie.  Jesus self het in Sy tyd op aarde nie baie meer as twaalf sulke verhoudings gekultiveer nie, en dan was een nog 'n Judas.  Maar daardie verhoudings het uiteindelik die wêreld verander!  Miskien is dit tyd dat ons ophou probeer om deur die wêreld se metodes die verandering te bring wat net God in ons harte kan bring deur die krag van die evangelie. 

Dink kleiner (dieper in), dink organies, dink verhouding.  Die sleutel tot kragtige transformasie wat dinamies sal uitkring na meer mense lê nie iewers daar buite of in nuwe projekte, planne, leiers of metodiek nie. Dit lê in die verhoudingskapasiteit van jou eie hart.  Begin by die mense wat reeds in jou invloedsfeer is.  Sommer net daar in jou eie gesin en familie. Kultiveer verhoudingsintimiteit vanuit die Wynstok.

"Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie." Johannes 15:5 

"Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad. Bly in hierdie liefde van My." Johannes 15:9 


Dít alleen is die dissipelskap waarvan die Nuwe Testament praat. 

No comments:

Post a Comment