"Maar
ek vermaan julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, om almal
eenstemmig te wees, en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie, maar
dat julle verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening."
1 Korinthiërs 1:10
Wat op aarde bedoel Paulus hier? Sou hy steeds daardie stelling gemaak het 2
000 jaar na Christus met die ontwikkeling van honderde fokusse en opinies in
die geskiedenis van die kerk? Moet ons
steeds "verenig wees in dieselfde gesindheid en dieselfde
mening"? En hoe strook "dieselfde
gesindheid en mening" met die letterlik honderde verskillende denominasionele
aksente en klemme? Kan ek net
"dieselfde gesindheid en mening" handhaaf met mense wat in my eie
denominasie is? Ek lê aan jou voor dat
dit in Bybelse terme absurd is om te dink dat hierdie teks ooit so
geïnterpreteer kan word.
Dit is juis teen hierdie geneigdheid (a.g.v. die
gevallenheid in ons) om net te wil assosieer met mense wat oor
"alles" met my saamstem waarteen Paulus hier waarsku (sien verse 11
en 12). Ek plaas die "alles" in aanhalingstekens, want dit is in elk
geval 'n mite dat mense in dieselfde denominasie oor alles saamstem m.b.t. die
Christelike geloof. Die meeste mense weet, in alle eerlikheid, nie eers wat
hulle eie denominasies werklik glo of presies hoe die ander glo wat saam met
hulle in een denominasie is nie.
Die eenheid wat Paulus van praat is eenheid in die
evangelie. Die boodskap m.b.t. die dood
en opstanding van Jesus Christus wat dit moontlik gemaak het vir verlore
sondaars uit elke stam en taal en volk en nasie om gered te word deur geloof
alleen en om sodoende 'n hoop te hê op "nuwe hemele en 'n nuwe aarde waarin geregtigheid woon" (1
Kor. 15:1-4 en 2 Pet. 3:13). Op grond
van hierdie boodskap word ons verlos van ons hoogmoed en vooroordele teenoor
ander en kan ons 'n liefde teenoor mede-dissipels openbaar wat vir die wêreld
wys dat Jesus werklik die Verlosser en Koning is. Veral in die maníer wat ons
van mekaar verskil!
"Hieraan
sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het."
Johannes 13:35
"Dat
almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons
een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het." Johannes
17:21
Daar staan nie "hieraan sal almal weet dat julle
denominasie my dissipels is, as julle liefde het vir almal wat in julle
denominasie is" nie. Ook nie,
"dat almal in dieselfde denominasie een mag wees..." nie. Of, "dat hulle ook in terme van hulle
perfekte eenvormigheid in teologie en tradisie met almal in hulle denominasie
een mag wees" nie, maar "dat hulle ook IN ONS (d.m.v. die evangelie
hier geïmpliseer) een mag wees"!
Die uitdaging vir ons na 2 000 jaar se kerkgeskiedenis en
honderde verskillende tradisies, opinies en fokusse is om vanuit die enkele
fokus op die Persoon en Verlossingswerk van Jesus (die evangelie) die
"eenheid van die Gees" te bewaar en om in liefde en geduld ons
verskille (waarvan ek net 'n paar genoem het verlede keer in "Bewaar die
eenheid van die Gees...behalwe") met mekaar m.b.t. ander aspekte van
teologie aan te hoor. Solank ons net op
'n volwasse manier en vanuit die Bybel (op grond van ons eie oortuiging en
gewete, nie 'n groep of gunsteling leraar s'n nie) met mekaar gesprek voer en
nie met 'n heethoofdige gesindheid of 'n politiese en sektariese gees wat ten alle
koste ons eie tradisies, fokusse en voorkeure wil verdedig nie. Die Nuwe Testament roep ons gedurig op om te
dink, te leef en te redeneer vanuit één enkele fokus.
"Terwyl
hy nog spreek, oordek ‘n helderligte wolk hulle meteens en daar sê ‘n stem uit
die wolk: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het. Luister na
Hom!" Mattheüs 17:5
No comments:
Post a Comment