Met die wedergeboorte ontspring daar nuwe begeertes in 'n
mens se hart. Dit is dus baie meer as
net 'n belydenis, 'n instemming tot korrekte leerstelling, 'n nuwe benadering
tot die lewe of 'n nuwe begrip, ingesteldheid of gesindheid. Esegiël profeteer as volg oor die wese van
die nuwe verbond:
"En
Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge
wandel en my verordeninge onderhou en doen." Esegiël 36:27
Hierdie begeertes is vir seker nog nie so sterk soos hulle
kan of gaan wees in die jong gelowige se hart nie, maar hulle is nietemin eg en
lewenskragtig. Daarom kan ons sonder
enige vrees vir teëspraak die stelling maak dat die ware en egte Christelike
geloof ten diepste te doen het met nuwe begeertes in die dissipel se hart. In elke ware dissipel se hart is daar
byvoorbeeld 'n begeerte om God te ken en Hom te gehoorsaam, om heilig te leef,
om geestelike en hemelse dinge te bedink d.m.v. die Woord van God (sonder noodwendig
onmiddellike voordeel vir myself), om die gemeenskap van ander dissipels van
Jesus te geniet, om te sien hoe verlore mense tot redding kom, ensovoorts.
Alle dissipels gaan deur tye waar hulle moet veg teen
wêreldse begeertes, maar in die ware dissipel triomfeer die nuwe begeertes van
die nuwe lewe in Christus en hierdie nuwe begeertes dra vrug wat bly. In die
pseudo dissipel oorwin die begeertes van die wêreld en is daar later nie eers
meer uiterlike tekens van Goddelike begeertes nie.
"Maar...die
begeertes na allerhande ander dinge kom op en verstik die woord, en dit bly
sonder vrug." Markus 4:19 (NAV)
Laat elkeen baie seker maak dat daar wel nuwe begeertes in
sy of haar hart ontspring het. As dit nie
die geval is nie het jy nodig om dringend na Christus te draai met jou hele
hart en siel en God te vra vir die ware wedergeboorte wat net in Christus
beskikbaar is.
No comments:
Post a Comment