Kyk jy na die hemel van die aarde af of na die aarde van die
hemel af?
"En
Hy sê vir hulle: Julle is van benede, Ek is van bo; julle is uit hierdie
wêreld, Ek is nie uit hierdie wêreld nie." Johannes 8:23
Jesus verklaar onomwonde vir die Jode van Sy dag dat Hy nie
uit hierdie wêreld is nie. Jesus het nie
na die hemel gekyk van die aarde af nie, maar na die aarde van die hemel
af.
Een van die mees verstommende waarhede van die Nuwe
Testament is dat alle wedergebore mense nou in 'n sin presies dieselfde kan
sê. Oorweeg net die volgende tekste as
'n voorbeeld hiervan:
"Julle
het saam met Christus gesterwe...Waarom lewe julle dan nog asof julle aan
hierdie wêreld behoort?" Kolossense 2:20 (NAV)
"Bedink
die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie.Want julle het gesterwe,
en julle lewe is saam met Christus verborge in God." Kolossense 3:2-3
As jy na die hemel kyk van die aarde af is al jou belange en
jou "skatte" steeds hier in die tydelike en dan is jou hart
ongelukkig ook op die verkeerde plek (sien Lukas 12:33-34). Dan leef jy maar jou "eie lewe" in
die hier-en-nou en vra God om jou planne en projekte te seën; jy *"trek
kort op sestig pensioen en raak met God en mens versoen". En dan daar in
die ouetehuis het ons mos baie tyd om te begin dink oor die hemel. Of hoe?
Ware dissipelskap is iets totaal anders. Dit begin by 'n
radikaal ander perspektief. Gaan kyk maar hoe Jesus in die evangelies mense
roep om 'n hemelse identiteit te omhels en aanvaar, soos wat hulle wegdraai van
die aardse. Dit gebeur natuurlik eers volledig wanneer 'n mense geestelik
weergebore word (Johannes 3). Daarom
word die briewe van die Nuwe Testament geskryf uit die perspektief van die
hemelse. Daar word gekyk na die aarde
van die hemel af. As jy hierdie punt
mis, gaan jy regtig nie veel verstaan van die Nuwe Testament nie en jy gaan
gevolglik ook nie werklik verstaan wat dit beteken om Jesus te volg nie.
Die hele Nuwe Testament roep ons op om ons perspektief te
verander. In die proses van bekering
sien 'n mens skielik jou lewe uit God se perspektief. Na wedergeboorte verwag God dan van ons om
nooit weer terug te val na 'n aardse perspektief nie. As jy eers die Nuwe Testament in hierdie lig
begin lees, maak dit vir jou al hoe meer sin en raak hierdie "vernuwing
van denke" vir jou kosbaar en lewensveranderend.
*
Aangehaal uit 'n gedig van S.V. Petersen.