Ons het verlede keer gesien dat die hemelse ekonomie
funksioneer op grond van die beginsel van vrygewigheid; die vryelike vloei uit
'n hart wat oorloop van dankbaarheid en vervulling in Christus.
Net hier is daar egter 'n baie algemene beswaar wat opkom in
die menslike hart, naamlik dat sommige dissipels meer as genoeg het en daarom
kan bekostig om vrygewig te wees, maar ek sal gee wanneer ek meer hét om te
gee. Eintlik wil ek baie graag gee, maar
ek het net nie nou om te gee nie. Wat is
Jesus se respons op hierdie beswaar?
In Lukas 21 verstom Hy weereens Sy dissipels deur vir hulle
te demonstreer dat die koninkryk van God anders werk as die wêreld.
"En
toe Hy opkyk, sien Hy die rykes wat hulle gawes in die skatkis gooi. En Hy het ook ‘n arm weduwee daar twee
geldstukkies sien ingooi. En Hy sê:
Waarlik, Ek sê vir julle dat hierdie arm weduwee meer as almal ingegooi
het. Want hulle almal het uit hul
oorvloed by die gawes van God ingegooi, maar sy het uit haar gebrek ingegooi
alles wat sy gehad het om van te lewe." Lukas 21:1-4
Weereens sien ons dat God kyk na die kondisie van die
menslike hart. Mense kyk na die
uiterlike, maar God wil weet wat in ons harte aangaan. Die arm weduwee het uit
haar hart uit gegee en sy het opofferend gegee.
Ons sien presies dieselfde in 2 Korinthiërs 8:
"Broers,
ons wil hê julle moet weet van die genade wat die gemeentes in Masedonië van
God ontvang het. Al was hulle swaar
beproef deur verdrukking, hulle blydskap was oorvloedig; en al was hulle baie
arm, hulle was ryk in hulle oorvloedige vrygewigheid." 2 Korinthiërs
8:1-2 (NAV)
Wanneer ons daai beswaar voel opkom in ons harte is dit tyd
om ons oë weg te draai van mense en ons moeilike omstandighede en net vir
Jesus, baie eenvoudig te vra of ons wel leef uit 'n dankbare en vrygewige
hart. Leef ons in die hemelse
ekonomie? Leef ons uit "oorvloedige
blydskap" en is ons "ryk in oorvloedige vrygewigheid" selfs in
die aangesig van "verdrukking" en "armoede"? Jesus sal vir ons wys waar en hoe ons moet
gee, maar die eerste orde van die koninkryk is die hart; vrygewig of ingeperk
en self-gerig?
No comments:
Post a Comment