Tuesday, 21 July 2020

ONTDEK DIE FONTEIN BINNE-IN JOU!


Iewers in die kerk se geskiedenis het ons die spontane kommunikasie van die Woord van Christus verloor.  Hierdie opwindende "praat" en "deel" en "verkondig" van die evangelie was bedoel om te vloei uit die hart van elke dissipel van Jesus.

"Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei." Johannes 7:38 

Ongelukkig is dit juis hierdie element wat die hartklop van gemeentelewe (en evangelisasie) is volgens die Nuwe Testament.

"Maar Saulus het die gemeente verwoes en in die huise gegaan en manne en vroue uitgesleep en in die gevangenis oorgelewer.  En die wat verstrooi was, het die land deurgegaan en die woord van die evangelie verkondig." Handelinge 8:3-4 

"Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here." Kolossense 3:16 

In Handelinge 4 verse 19 en 20 sien ons 'n verstommende antwoord van Petrus en Johannes aan die owerstes van Israel nadat hulle beveel word om nie meer te "spreek in die naam van Jesus" nie:

"Toe antwoord Petrus en Johannes en sê vir hulle: Of dit reg is voor God om julle meer gehoorsaam te wees as God, moet julle self beslis;  want vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien en gehoor het nie." Handelinge 4:19-20 

"Vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek nie"!  Verstommend. 

Tensy ons hierdie essensiële element van gemeentelewe herontdek en herwin, gaan die meeste van ons pogings en projekte geen langdurige vrug dra nie.  Tensy ons weer die onuitputlike fontein van lewe binne-in ons ontdek, sal al ons omgang met die Woord net iets ekstern bly wat nooit werklik dieper as die verstand gaan nie.

Wat het ons vandag met hierdie kosbare Woord gedoen:

  • ·         ons het dit die amper eksklusiewe domein gemaak van professionele mense; pastore en predikers
  • ·         ons het dit verskraal tot die domein van die verstand; m.a.w. slegs vir instruksie, Bybelstudies, verdediging van leerstellings, ens.
  • ·         ons het dit beperk tot gebruik in ons persoonlike stiltetye en familie oordenkings net vir sekere tye van die dag of week
  • ·         vir baie van ons het dit net waarde vir 'n halfuur op 'n Sondagoggend


Ja, vir seker bevat die Bybel teologie en is dit ook bedoel om vals leringe te weerlê.  Vir seker kan ons dit bestudeer en gebruik in Bybelskole en dissipelskapkursusse, maar die Bybel is ook baie meer as dit.  Die Bybel is die Woord van God en is bedoel vir die hart! Dit is bedoel om geniet en gedeel te word soos 'n heerlike ete. 

Die Bybel is die openbaring van Christus en dit wil ons innerlike mens ontsluit.   Dit wil ons lewend maak tot so 'n mate dat ons dit spontaan begin deel met mekaar, nie net omdat ons moet of omdat dit die Christelike ding is om te doen nie, maar omdat ons 'n ononderbroke innerlike opwelling beleef wat dit bykans onmoontlik maak om stil te bly.

No comments:

Post a Comment