Ware gebed begin by die spontane ekspressie van my hart voor God, maar dit is maar net soos om jou bootjie in die rivier te loods. Die krag en vloei van die rivier is die gebedslewe van Jesus self en hierdie bonatuurlike gebedslewe is die plan van God vir alle dissipels van Jesus.
Die verstommende
waarheid van Galasiërs 2 vers 20 het ook betrekking op ons gebedslewe as
dissipels van Jesus. Ons "leef"
nie meer nie maar Christus "leef" in ons. Net so kan ons sê ek "bid" nie meer
vanuit myself nie, maar Christus "bid" in my.
Die oproep tot
volharding en waaksaamheid in gebed in die konteks van die primêre boodskap van
die Nuwe Testament is 'n oproep om ook in gebed volledige uiting te gee aan die
lewe van Christus in ons.
"Volhard in die gebed en waak daarin met
danksegging." Kolossense 4:2
Die gebedslewe van
Jesus is as't ware geïnstalleer in ons gees soos wat 'n sagteware program op 'n
rekenaar geïnstalleer word en dan reg is vir gebruik. Gaan deur die evangelies en let op na Jesus
se lewe van gebed en intersessie. Besef
jy dat dit nou jou lewe is, want jy is in Hom en Hy ís jou lewe (Kol. 3:4)!
Alles wat ons in
die Bybel lees oor gebed moet in hierdie konteks gesien en verstaan word. Prakties beteken dit dat ek na die Vader gaan
en bely dat ek dikwels nie weet wat en hoe om te bid nie, maar dat ek volle
vertroue het dat die Heilige Gees die gebedslewe van Jesus in en deur my sal
ontsluit.
"En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp,
want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in
met onuitspreeklike sugtinge." Romeine 8:26
Géé jouself vir so
'n lewe (Rom. 12:1) en aanskou dan hoe God begin om jou te neem na avonture in
gebed wat jy nie eers sou kon droom om te realiseer vanuit jouself nie.
"En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles
wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk." Efesiërs 3:20
No comments:
Post a Comment