"Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie
bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie." 1 Joh. 5:3 (OAV)
"Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons sy gebooie
gehoorsaam. Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie." 1 Joh.
5:3 (NAV)
Ons voel soms oorweldig deur die gevallenheid bo ons,
rondom ons, en selfs in ons en boonop die ewige gesukkel om dinge en
verhoudings te laat werk in die ou wêreld waar alles so maklik uitmekaar val en
ten gronde gaan. Sulke tye kan die pad
van 'n dissipel van Jesus vir ons onmoontlik steil voorkom. Jy het net-net die
vorige bult gemaak, dan lê daar nog 'n steiler een voor jou. Om dan te lees dat God se gebooie 'nie swaar
is nie' laat 'n mens se mond oophang en jy wonder heimlik of Johannes op
dieselfde planeet as ons geleef het. Let wel, hy sê nie 'die lewe is maklik,
want God sorteer alles sommerso in 'n japtrap vir ons uit' nie. Dit sou op sigself verstommend wees. Hy sê in teendeel elders jy gaan baie
téénkanting kry in die wêreld én dan moet jy nog te midde van alles gehoorsaam
wees aan alles wat God van jou vra. Sjoe!
Hoe dan? Johannes praat van die
oorwinning op die weg van die liefde. As
mens iemand liefhet is dit 'n vreugde om hulle hartsbegeertes te bevredig,
selfs al verg dit baie opofferings. Deur
die wedergeboorte het ons die bonatuurlike liefde van God ín ons. Ons neem
egter so maklik sypaadjies wat ook belowe om ons by gehoorsaamheid uit te
bring, maar Johannes sê in effek daar is net een pad wat werk. Dit is die pad
van die bonatuurlike liefde van God ín my wat lei tot die bonatuurlike liefde
vír God gedemonstreer deur my gewillige gehoorsaamheid aan die begeertes van Sy
Vaderhart.
No comments:
Post a Comment