"En omdat julle kinders is, het God die Gees van sy
Seun in julle harte uitgestuur, en Hy roep: Abba, Vader!" Gal. 4:6
Al die kinders van Adam dwaal Vaderloos rond op 'n
gevalle planeet. Die woorde van God aan
Adam eggo deur die eeue 'die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe'
(Gen. 2:17). Om sonder verhouding met
die Vader te leef is om verlore en sonder enige hoop te wees. Dit is om geestelik dood te wees. Die dag wat jy egter uit jou diepe
verlorenheid en Godsverwydering die naam van Jesus aanroep, word jy oombliklik
in Hom geplaas en Hy in jou en ontvang jy die ewige Seun se tydlose verhouding
met die Vader as jou grootste geskenk. Hierdie
Seun was altyd by die Vader en Hy leef in Sy boesem (Joh. 1:18). Hierdie Seun leef in onbeperkte intimiteit met
die ewige Vader. Hierdie Seun se Gees is met die wedergeboorte in jou hart
uitgestuur en Hy roep binne-in jou 'Abba, Vader!'. Jy is nie meer Vaderloos nie. Jy hoef nie te leef soos 'n geestelike
weeskind nie.
Moenie as dissipel van Jesus probeer om jou eie
verhouding met die Vader na te jaag onafhanklik van die Seun nie. Dit is futiel! Jou verhouding met die Vader is in en deur die
ewige Seun. Glo dit en verbly jou
daarin! Kyk weg van jouself na Jesus en
jy sal die 'Abba Vader' in jou binneste begin hoor. Eers saggies en vaag, maar dan al hoe duideliker,
totdat dit die refrein van jou hele lewe word.
No comments:
Post a Comment