"Maar,
terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die
Hoof is, naamlik Christus, uit wie die hele liggaam — goed saamgevoeg en
saamverbind deur die ondersteuning wat elke lid gee volgens die werking van
elke afsonderlike deel in sy mate — die groei van die liggaam bevorder vir sy
eie opbouing in liefde." Efesiërs 4:15-16
Elke
boek van die Nuwe Testament verkondig helder en duidelik die blye boodskap dat
Jesus alleen meer as voldoende is vir alles wat ons ooit sal nodig hê vir tyd
en ewigheid. Dit is die enigste basis
vir dissipels van Jesus om in vrede, vreugde, vryheid en oorwinning te leef in
'n gevalle wêreld. Juis daarom is die satan se strategie altyd om op subtiele
maniere hierdie boodskap te ondermyn en ons te probeer oortuig dat ons iets moet
byvoeg, dat Jesus alleen nie genoeg is nie. Die waarheid is egter dat Jesus
plus enigiets altyd lei tot die byvoeging minus
Jesus. As ek iets wil byvoeg by Sy volkomenheid sit ek op die ou end nie met
meer nie, maar met veel minder, eintlik met niks! Wat dan van Jesus plus die
gemeente? Dit is sekerlik 'n legitieme byvoeging?! Net hier stel satan een van
sy slimste sette teen die kinders van God in werking.
Die
Nuwe Testament leer dat die gemeente uit Jesus en op Jesus, as die Rots, gebou
word; nooit dat die gemeente as 'n plus by Hom gevoeg moet word nie. Enige
gemeente of federasie van gemeentes wat aanspraak maak op ewige lewe of finale
outoriteit asof dit die eksklusiewe domein is van genoemde gemeente of
gemeentes is besig om iets by Jesus te voeg en ondermyn in werklikheid die
koninkryk van God. Selfs al is dit met die beste motiewe denkbaar. Die gemeente
gee nie vir Jesus lewe nie, Jesus gee die gemeente lewe. Die gemeente
ondersteun nie vir Jesus nie, Jesus ondersteun die gemeente. Die gemeente gee
nie vir Jesus outoriteit nie, Jesus gee die gemeente outoriteit. Dit is nie ons
programme, planne en wonderlike organisasie wat Jesus se invloed laat toeneem
nie. Dit is Jesus wat deur Sy eie wysheid en krag volgens Sy volmaakte wil rig
en bestuur, die gemeente wat Hom alleen gehoorsaam. Die lewe is nie in ons nie,
dit is in Jesus. Die salwing is nie ons besitting asof ons in onsself die
wonderlike gesalfdes is wat vir almal kan lewe en rigting gee nie. Jesus is die
Gesalfde Een en daar is net werklik 'n salwing wat seën bring wanneer ons aan
Hom vashou en uit Hom bedien. Ons moet leer om fyn te luister na wat gemeentes
regtig probeer sê, want gemeentes wat hulleself en/of hulle leierskap probeer
promoveer is gesaai oor die landskap. Daarenteen is gemeentes wat ten doel het
om mense aan Jesus alleen te verbind en in Hom by volwassenheid te bring, so
skaars soos hoendertande. Die apostel Paulus het die standaard vir leierskap en
gemeentes baie duidelik gestel in 2 Korinthiërs 4 vers 5, “Want ons verkondig
nie onsself nie, maar Christus Jesus as Here, en onsself as julle diensknegte
om Jesus wil.”