“…want dit is goed
dat die hart versterk word deur genade…”
Heb. 13:9
Daar is nie op hierdie aarde so iets soos ‘n hart wat nie
soms op afdraaipaadjies wil stap nie. Die mees toegewyde dissipel van Jesus het
“versterking van hart” nodig. Ons teks
in Hebreërs 13 sê dat die hart deur “genade”
versterk moet word. Daar is geen ander
medisyne vir ons harte nie. Niks in jou
en my lewe is belangriker as die kondisie van ons harte nie, en ek praat nie
van daai vier-kamer pomp aan die linkerkant van jou borskas agter jou ribbes
nie. Ons het nodig om gedurig
blootgestel te word aan die boodskap van Jesus wat ons wysheid is sodat ons nie
hoef te leef uit ons eie insig nie, ons geregtigheid is sodat ons nie hoef te
streef om vir God aanvaarbaar te wees nie, ons heiliging is sodat ons nie uit ons
eie krag hoef te probeer groei in toenemende heiligheid nie en ons verlossing
is sodat ons nie nodig het om moedeloos te raak oor die toekoms nie (1 Kor.
1:30). God het “in Christus” volkome voorsiening gemaak vir alles wat jy ooit
sal nodig hê. Moenie probeer leef uit jou eie wysheid en
krag nie, dit gaan jou hart vir seker laat afdwaal. Leef uit ‘n hart wat gedurig onder die
invloed van genade is. Dit is werklik
die énigste manier om ‘n
betekenisvolle lewe te leef en ‘n getuienis van Jesus se oorwinning te wees te
midde van die vervallenheid en hartseer van ‘n stukkende wêreld met stukkende mense.
No comments:
Post a Comment