"Self weet ek dat daar ná my vertrek wrede wolwe
onder julle sal indring, en hulle sal die kudde nie spaar nie. Selfs uit julle
eie geledere sal daar mense na vore kom wat, deur verdraaide dinge te
verkondig, die gelowiges sal probeer verlei om hulle te volg. Daarom:
Wakkerloop! Onthou dat ek vir drie jaar lank sonder ophou vir elkeen van julle
die regte koers aangedui het, dag en nag, en met trane.” Hand. 20:29-31 (NLV)
Kan ons nie net glo soos kindertjies en alles vir
soetkoek opeet wat lyk soos 'n geestelike boodskap of wat vir ons van kansels
en deur die massamedia opgedis word nie?
Kan ons nie maar net kerktradisies en denominasionele dogma heel insluk
sonder om te kou nie? Die kort antwoord
is, 'nee'. Kinderlike geloof en
beoordeling van waarheid staan nooit teenoor mekaar in die Bybel nie. Hoekom is dit nodig om voortdurend boodskappe
te toets en te beoordeel, om te onderskei en te "waak" oor waarheid
en ons eie harte soos Jesus en die apostels oor en oor beveel het? Want net soos daar 'n menigte
"goggas" is wat jou liggaam wil aftakel, is daar 'n baie slinkse
geestelike vyand wat die boodskap van die evangelie op allerhande maniere
verdraai en ons wil voer met sy leuens.
Ons liggame het 'n immuunstelsel wat die "goggas" veg. Net so het God vir ons 'n immuunstelsel gegee
om geestelike "goggas" te veg.
Die Woord van God wat jy in jou hart bewaar en bely met jou mond is die
"swaard van die Gees" (Efes. 6:17).
As jou liggaam se immuunstelsel skielik afskakel, het jy groot probleme,
my vriend. Net so is dit fataal om jou
geestelike immuunstelsel te verloor of te misken dat jy een nodig het. Die kerk oor die wêreld ly ongelukkig grotendeels
aan geestelike VIGS ("verworwe immuniteitsgebreksindroom") en dit raak
al hoe erger. Ons moet wakker word en
reguit loop, in lyn met die duidelike bakens wat vir ons gegee word in die
Woord van God. Glo alles wat in die
Bybel staan soos 'n kind, met totale oorgawe en 'n rein gemoed en bly by die
eenvoud van die openbaring van Jesus (Heb. 1v1-3). Maar moenie alles wat geestelik klink of wat
van kansels gepredik en geleer word glo soos 'n kind nie. “Beproef alle dinge; behou die goeie” (1 Thes.
5:21).
This comment has been removed by the author.
ReplyDelete