Die wêreld se optimisme is uiterlik, kunsmatig en totaal uit voeling
met die gevallenheid van die huidige skepping en die oordeel wat wag vir almal
wat nie die knie wil buig vir Jesus Christus nie.
"Maar die dag van
die Here sal kom soos ‘n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die
elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal
verbrand." 2 Petrus 3:10
"En aan julle wat
verdruk word, verligting te gee saam met ons in die openbaring van die Here
Jesus uit die hemel met sy magtige engele
in vuur en vlam, wanneer Hy wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en
op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie." 2 Thessalonicense 1:7-8
As dissipels van Jesus het ons nodig om vir ongelowiges 'n realistiese
prentjie te gee van die lewe op 'n gevalle en gebroke planeet. Daar is byvoorbeeld geen verlossing en
vreugde vir enigiemand voordat hulle nie eers treur oor hulle sonde en dan
wegdraai daarvan nie.
"Salig is die wat
treur, want hulle sal vertroos word." Mattheüs 5:4
Konsekwent regdeur die Bybel word optimisme net 'n moontlikheid wanneer
'n mens eers God se diagnose van ons gevallenheid aangehoor en aanvaar het en
dan Sý verlossingsplan omhels het. Daarom
faal die wêreld se optimisme altyd tragies en bring uiteindelik totale wanhoop
en verwoesting. Ons het 'n verantwoordelikheid
voor God om die valse en oppervlakkige optimisme van die wêreld te ontbloot en daarteenoor
die egte en ewigdurende optimisme van die Bybel te verkondig.
God se plan en uitweg staan lynreg teenoor die van die wêreld. Ons kan nie en durf nie die twee probeer
versoen nie. Ons durf nie die
opstandingslewe aanbied sonder 'n kruis nie.
Selfs nadat ons wedergebore is, kom vreugde aan die ander kant van sterf
aan myself, liefde eers wanneer ek my eie goedgunstigheid en welwillendheid opgegee
het en Christus se liefde in my ontdek het, ware hoop eers wanneer ek geen meer
hoop in die natuurlike en tydelike het nie, maar my oë gerig het op die geestelike
en ewige werklikheid van die koninkryk wat kom.
Het ons generasie van gelowiges dalk begin om die wêreld se optimisme
te koop en ons kosbare Bybelse optimisme te versaak? Is ons "positiwiteit" nie maar
dikwels die van die wêreld nie? Is dit
nie dalk hoekom ware, diepgaande vreugde
en hoop wat die storms van die lewe in werklikheid kan trotseer so skaars is onder
ons nie? Martyn Lloyd-Jones, 'n groot
prediker van die vorige eeu, het in sy tyd al gesê "we are far too bright
and breezy today".