Die briewe van die Nuwe Testament is
hoofsaaklik geskryf aan gewone lidmate, nie leiers per se nie.
Nuwe-Testamentiese leierskap is radikaal Christus-gesentreerd en ten volle
lidmaat-gerig (Matt 23:8-12). Dit is daarop gerig om konstant en aanhoudend
gelowiges vas te maak aan Christus as hul Hoofleier en om elkeen in die
gemeente toe te rus om dissipelmakers te wees. Dit is tyd vir ons om op te hou
om bloot te praat van die priesterskap van alle gelowiges en om dit werklik te
begin toepas in ons gemeentelewe.
Dit verg natuurlik in baie gevalle’n groot
paradigmaskuif in die konteks van ons huidige gemeentepraktyke, maar dit is van
kardinale belang vir die uitvoering van God se plan vir Sy Gemeente. God se
plan is eenvoudig en bedoel om deurdringend te wees: Élke lid van die liggaam
toegerus, élke lid in die Woord, élke lid radikaal Christusgesentreerd en geaktiveer
deur die evangelie en élke lid ’n dissipelmaker. Totdat ons hierdie spesifieke
doelwit het, mis ons die merk heeltemal en mors kosbare tyd, selfs met al ons
kerkprogramme, vergaderings, komitees, opleidingskursusse en dies meer.
No comments:
Post a Comment