Ons verhoudingsprobleme ontstaan wanneer ons wegkyk van die
"aangesig van Jesus" en op 'n ander basis verhouding probeer
bou. Maar daar is kosbare herstel van
verhoudings en verstommende versoeningspotensiaal wanneer ons mekaar begin sien
"in die aangesig van Jesus".
Die
woord "aangesig" kom net drie keer voor in die Nuwe Afrikaanse
Vertaling, maar meer as 700 keer in die Ou Afrikaanse Vertaling. Alhoewel dit
'n woord is wat ons nie vandag meer gebruik nie is daar tog vir my iets aan
hierdie woord wat die idee van verhoudingsintimiteit pragtig uitdruk.
In
die Ou Afrikaanse Vertaling word dit nie net gebruik om ons verhouding met God
te beskryf nie, maar ook ons verhouding met mekaar. Dit spreek van versoening, van nabyheid, van
harte wat kontak het met mekaar, van 'n intieme kennis en 'n begeerte om nog
beter te ken. Die hele boodskap van die
evangelie gaan daaroor dat ons God slegs kan ken "in die aangesig van
Jesus Christus". Die Heilige Gees
openbaar die Persoon en Karakter van Jesus vir ons in die evangelie en dit
bring oombliklik 'n verhoudingskennis van God.
"Want God
wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn—dit is Hy wat in ons harte
geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van
God in die aangesig van Jesus Christus." 2 Korinthiërs 4:6
In die "aangesig van Jesus" leer ons nie net die Vader ken
nie, maar word daar ook op 'n wonderbaarlike wyse 'n weg vir ons oopgemaak om
mekaar "in Christus" te ken.
"Maar nadat ons, broeders, ‘n kort tydjie van julle geskeie
was—in persoon, nie met die hart nie—het ons met groot verlange ons des te meer
beywer om julle aangesig te sien." 1 Thessalonicense 2:17
Ek nooi jou
vandag uit om na die mense om jou te begin kyk in die lig van die Persoon en
verlossingswerk van Jesus, m.a.w. in die lig van Sy aangesig.
No comments:
Post a Comment