"En die gemeentes
deur die hele Judéa en Galiléa en Samaría het vrede gehad; en terwyl hulle opgebou is en
gewandel het in die vrees van die Here en die vertroosting van die Heilige
Gees, het hulle vermeerder." Handelinge 9:31
'n
Mens kan nie met aandag deur die boek Handelinge lees sonder om diep beïndruk
te word deur die antieke gemeentes se kinderlike afhanklikheid van die Heilige
Gees nie. Vir hulle was die werklikheid
van Jesus se teenwoordigheid by hulle en in hulle nie net 'n teorie nie. Die uitstorting van die Heilige Gees was vir
hulle die groot gebeurtenis wat alles op hierdie aarde verander het. Om te "wandel deur die Gees" was
nie 'n onderwerp vir die volgende Bybelstudie nie, maar hulle daaglikse
belewenis. Dit was ondenkbaar om nie die
Heilige Gees te vertrou vir elke behoefte aan wysheid, krag en oorwinning in
die daaglikse lewe nie.
Is
jý bewus van die onmiddellike teenwoordigheid en werking van die Gees in jou
lewe? Dit begin alles met geloof. Ons moet onwrikbaar glo dat die Trooster en
Helper gegee is vir ons om daagliks in die krag en karakter van Jesus te kan
leef op hierdie aarde. Elke belofte wat
vir ons gegee is in die Bybel kan net gerealiseer word deur die bediening van
die Heilige Gees. Die Woord en die Gees
werk saam om Jesus in die hier-en-nou van ons lewens 'n werklikheid te maak.
No comments:
Post a Comment