Ons generasie is besig om die seilstoele op
die Titanic mooi te rangskik terwyl hy besig is om te sink. Ons huur vrolik binnenshuise versierders om
'n brandende gebou fraaier en meer "cozy" te maak. Jesus het gesê Sy
dissipels is "die lig van die wêreld", maar ons moet dit binne
konteks van die hele boodskap van die Nuwe Testament verstaan. Ons optimisme oor hierdie wêreld en sy toekoms
moet 'n nekslag toegedien word sodat ons Bybels kan begin dink oor die
koninkryk van God en ons bestaan op aarde.
Waar dissipels van Jesus betrokke is, sal
daar noodwendig opheffing plaasvind, maar wat is ons boodskap aan hierdie wêreld? Dit is veronderstel om te wees: "Hierdie
plek gaan brand, maar daar is 'n uitweg, Sy naam is Jesus". Die Noag boodskap is steeds van
toepassing. Die einde kom, maar daar is
'n ark deur God berei. Die wat dit glo
kan die komende oordeel ontvlug. Die wêreld
sal nie weer deur water vergaan nie, maar hy gaan beslis deur vuur vergaan.
Waar is jou hoop, my vriend, en wat is jou
boodskap? Lees asseblief die onderstaande
tekste biddend en hoor wat die Heilige Gees vir jou sê.
"Waardeur die toenmalige wêreld met water oorstroom
is en vergaan het. Maar die
teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as ‘n skat weggelê en
word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die
goddelose mense." 2 Petrus 3:6-7
"Julle wat die koms
van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal
vergaan en die elemente sal brand en versmelt." 2 Petrus 3:12
"En met baie ander
woorde het hy hulle besweer en vermaan en gesê: Laat julle red uit hierdie verkeerde geslag." Handelinge 2:40
"En aan julle wat
verdruk word, verligting te gee saam met ons in die openbaring van die Here
Jesus uit die hemel met sy magtige engele in vuur en vlam, wanneer Hy wraak uitoefen op
die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie
gehoorsaam is nie." 2 Thessalonicense 1:7-8
"En sy Seun uit die
hemele te verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus wat ons van die
toekomstige toorn verlos." 1 Thessalonicense 1:10
En dan...
"En ek het ‘n nuwe hemel en
‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het
verbygegaan; en die see was daar nie meer nie." Openbaring 21:1