Christus het getriomfeer oor al die magte en kragte van die duisternis
en gaan sit as Heerser aan die regterhand van die Vader. Ons is ten volle geïdentifiseer met Sy
heerskappy. Lees die volgende drie verse
in Efesiërs saam in hierdie konteks.
"En Hy het alle
dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente
gegee."
Efesiërs 1:22
"En saam opgewek en
saam laat sit in die hemele in Christus Jesus." Efesiërs 2:6
"Sodat nou deur die
gemeente aan die owerhede en magte in die hemele die menigvuldige wysheid van
God bekend gemaak kan word." Efesiërs 3:10
Dit is dus baie duidelik dat ons nie nodig het om self oorwinning te bewerkstellig
nie. Die probleem lê nie daar nie, maar by ons onkunde en gevolglike patetiese pogings
om uit ons eie krag en wysheid deurbrake op aarde te bring vir dosyne situasies
en omstandighede wat net God werklik kan verander. Die Nuwe Testament roep ons daarteenoor op om
ons hele perspektief geheel en al te verander en te begin om te kyk na alles op
hierdie aarde vanuit die hemelse heerskappy van Jesus Christus. Dit verg egter
'n baie radikale verandering van denke en die geloof en geduld om ons hande af
te hou van dinge wat God bonatuurlik wil bestuur volgens Sy eie wil en
voorneme.
"As julle dan saam
met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die
regterhand van God sit." Kolossense 3:1
No comments:
Post a Comment