Die evangelie van Johannes maak dit baie duidelik dat Jesus selfs
terwyl Hy op aarde was 'n hemelse adres gehad het.
"Niemand het ooit
God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom
verklaar." Johannes 1:18
Jesus het geleef in Sy Vader en vanuit Sy Vader se liefde en
gemeenskap. Dit word op verskillende
maniere vir ons uitgebeeld in die evangelie van Johannes. Die verstommende is egter dat hierdie
bestaanswyse en manier van leef ook van die begin af Jesus se plan was vir Sy
dissipels. Kyk bietjie wat bid Hy daar
in Johannes 17.
"Vader, Ek wil dat
waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees, sodat hulle my
heerlikheid kan aanskou wat U My gegee het, omdat U My liefgehad het voor die
grondlegging van die wêreld." Johannes 17:24
Sjoe! 'n Verstommende versoek.
Baie jare later skryf Paulus aan die gemeente in Thessalonika en hy
bevestig sommer met die intrapslag dat hulle in die Vader en die Seun is. Dit is hulle ewige tuiste, nou-al!
"Paulus en Silvánus en Timótheüs
aan die gemeente van die Thessalonicense wat in God die Vader en die Here Jesus
Christus is: Genade vir julle en vrede van God onse Vader en die Here Jesus Christus!" 1 Thessalonicense 1:1
Ons is steeds in ons liggame op hierdie aarde, maar ons geestelike
tuiste is vandag reeds die Vader en die Seun.
Is jy tuis in jou ewige tuiste en geniet jy die geestelike voordele in
die hier-en-nou? Baie dissipels leef
ongelukkig met 'n baie radikale skeiding in hulle denke tussen die tydelike/sigbare
en die ewige. So asof die geestelike en
die ewige eers "eendag in die verskiet" 'n werklikheid gaan
word. Dit is net eenvoudig nie waar
nie. Ons kan nou-al begin leef in die
geestelike werklikhede in Christus.
No comments:
Post a Comment