“Maar in al hierdie dinge is ons meer as
oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het.”
Romeine 8:37
“Maar God sy dank wat ons altyd laat triomfeer
in Christus en wat die reuk van sy kennis deur ons oral versprei.” 2 Korinthiërs 2:14
Wanneer ons verse soos hierdie in die Nuwe
Testament lees, lyk dit met die eerste oogopslag na die lewens van supermense
wat in Bybelse tye geleef het en ver weg is van die ervarings van ons gewone mense.
As ons egter nader kyk na die lewe van die man
wat hierdie woorde geskryf het, word dit gou duidelik dat hierdie lewe van
oorwinning onder andere baie swaarkry ingesluit het. Paulus is gestenig,
geslaan, vervolg, was met tye haweloos en honger (1 Kor. 4:11), in die
gevangenis en het skipbreuk gely. Hy moes gevare van rowers, gevare in
die stad, gevare in die wildernis, op see en gevare onder valse broeders
trotseer (2 Kor. 11:26). Tog sê hy ‘Ek loop oor van blydskap in al ons
verdrukking’ (2 Kor. 7:4).
Om ‘n oorwinnaar te wees is dus nie altyd so
glansryk as wat dit soms voorgestel word of in die vorm wat ons mag verwag nie
en die mense van wie die Bybel praat was gewone mense net soos ons. In
ons vers in 2 Korinthiërs sê dit dat God ons tot triomf lei deur Christus en in Christus. Dit beteken dat die ware oorwinnaar Christus is
en as gelowiges het ons almal gelyke toegang tot die lewe van Christus (2 Pet.
1:1) omdat Hy in ons lewe. As enigeen
nie die Gees van Christus het nie, is hy nie Christus s’n nie (Rom. 8:9).
Hierdie saak van oorwinning of ‘om ‘n oorwinnaar
te wees’, nee, ‘meer as ‘n oorwinnaar’, het alles te doen met die
lewe van geloof. Galasiërs 2 vers 20 hou die geheim van hierdie lewe van
triomf.
"Ek
is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my.
En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God
wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het."
No comments:
Post a Comment