Die Ou Testamentiese openbaring het tot God se
mense gekom in verskillende fragmente en stukke, soos ‘n legkaart wat stadig
vorm aanneem soos jy stuk vir stuk ontvang.
"Nadat
God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur
die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun wat Hy
as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak
het.” Hebreërs 1:1-2
Op hierdie wyse het God verkies om verwagtinge
in die mens wakker te maak vir die volheid van Sy openbaring in Christus.
Al die profete en manne van God in die Ou Testament het vooruit gesien na
die volledige manifestasie waarvan hulle tot op daardie stadium slegs ‘n
skadubeeld gesien het. En toe, in die volheid van die tyd, het God sy
Seun gestuur (Gal. 4:5).
Die Vleeswording van Christus het ‘n nuwe era
ingelui. Die ontwaking van ‘n nuwe dag in God se kalender het uiteindelik
aangebreek. Die openbaring van God in Christus was nie net nog ‘n diepsinnige
waarheid nie. Dit was nie net ‘n beginsel om ywerig toegepas te word
nie. Dit was meer as ‘n diep profetiese insig. Dit was eintlik nie
iets nie, maar Iemand, naamlik die Seun van God Self.
"Want
dit het die Vader behaag dat in Hom die ganse volheid sou woon."
Kolossense 1:19
Die Ou Testament was ‘n skadubeeld - hierdie was
die realiteit. God het Homself aan ons openbaar in die Persoon van sy
Seun.
"En
uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade." Johannes 1:16
In die Ou Testament was die openbaring
fragmentaries en onvolledig. In die Nuwe Testament is dit vervul en
voltooid. Daarom moet ons versigtig wees om nie terug te val in ‘n Ou
Testamentiese benadering tot die Christelike lewe nie. Alles wat ons doen,
sê, dink of preek moet met Christus begin en met Christus eindig. As jy voel
dis ‘n bietjie radikaal, bedink weer die woorde van die Een wat sy Seun gestuur
het:
"Dit
is my geliefde Seun: luister na Hom!" Markus 9:7
No comments:
Post a Comment