Ons het almal al die pyn van skeiding en gebroke
verhoudings ervaar. Min dinge is meer ontstellend en in staat om ons
emosioneel te verlam as ‘n verhouding wat skipbreuk gely het.
Terselfdertyd ken ons ook die vrede en vreugde wat ons ervaar wanneer daardie
verhouding herstel en genees word. As versoening met ‘n mens soveel vrede
en vreugde in ons harte kan meebring, hoeveel te meer bring die realiteit van
versoening met God oorvloedige vreugde. Die Woord van God sê dat ons eens op ‘n
tyd ver verwyder was van God, sonder hoop en verlore in ‘n betekenislose
bestaan.
"Dat
julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel
en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en
sonder God in die wêreld." Efesiërs 2:12
God het egter die inisiatief geneem deur sy Seun
te stuur na 'n verlore mensdom. As gevolg van hierdie geseënde evangelie
is die vyandskap a.g.v. ons sonde aan die kruis verbreek en is ons met God
versoen.
"Maar
nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed
van Christus." Efesiërs 2:13
"En
dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons
die bediening van die versoening gegee het." 2 Korinthiërs 5:18
Soos ons harte teerder word onder die bediening
van God se Gees, begin ons die onmeetlike voorreg van hierdie versoening
met God toenemend begryp. Aan die ander kant begin ons ook meer en meer
die verskriklike toestand waarin ons was voordat ons met God versoen is,
raaksien Die Heilige Gees doen dit om sodoende ‘n immer-vergrotende
dankbaarheid in ons te bewerkstellig vir die verlossingswerk van ons
Saligmaker.
Vir almal wat die soete vrug van ‘n versoende
lewe ervaar, word hierdie woordjie "versoening" een van die mooiste
woorde in God se hemelse repertoire van reddingsterme.
No comments:
Post a Comment