'Jy moet sterf aan' is ‘n gewilde frase in gemeentes.
Natuurlik is daar baie dinge waaraan ons moet sterf, maar ons sal nooit
effektief sterf totdat ons verstaan dat ons eintlik alreeds dood is vir daardie
dinge nie.
Slegs die ervaring daarvan is nodig om te
volg. In die Skrif word dit die geloofslewe genoem en hierdie
geloofslewe is die gevolg van openbaring van die Bybelse feite deur die Heilige
Gees. Ons beskou onsself as dood, omdat ons inderwaarheid dood is.
Dit maak nie saak hoe moeilik dit vir jou mag wees om te begryp dat jy
dood was nog voordat jy fisies gebore is nie - jy mag onder geen omstandighede
die woord van God betwyfel nie. As die Bybel sê dat jy met Christus
gesterf het (verlede tyd), moet jy daardie feit in geloof aanvaar en jou lewe
op daardie basis begin lewe terwýl jy die Heilige Gees vertrou vir toenemende
openbaring.
" Want
julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God." Kolossense
3:3
Die praktiese implikasie van ons mede-kruisiging
met Christus is die opstandingslewe in die krag van Christus. Ons
durf nie meer vertroue plaas in ons eie krag, wysheid of vermoëns nie. Al die imperatiewe vir die dissipel van
Jesus, bv. die gebedslewe, Bybelstudie, aflegging van sonde, getuienislewering
en aktiewe deelname aan gemeentelewe is steeds van toepassing, maar jy moet
nooit weer daardie dissiplines sien as aktiwiteite waarin jy betrokke is as
geskei van Jesus nie. Wat jy ookal
doen, moet jy doen in die krag van die lewende Christus in jou.
Dit mag dalk vir jou lyk na ‘n redelik
onbelangrike tegniese punt, maar dit is die presiese punt van verskil tussen uiteindelike
geestelike uitbranding en ‘n lewe wat aanhou groei en uitbrei. Begin om
jouself vandag as dood te beskou en terwyl jy in al die aktiwiteite van
'n dissipel betrokke mag wees nes voorheen, sal jy begin besef dat daar
‘n nuwe krag in jou opbruis wat vloei uit jou innerlike wese. Die uiteindelike
vraag is nie of jy die gedissiplineerde lewe leef nie, maar aan watter
kant van die kruis jy staan as jy in hierdie dissiplines betrokke raak.
No comments:
Post a Comment