"Jesus
het geweet dat die Vader alles in sy hande gegee het en dat Hy van God gekom
het en na God teruggaan. Toe het Hy van
die tafel af opgestaan, sy bokleed uitgetrek en 'n handdoek gevat en om Hom
vasgemaak. Daarna het Hy water in 'n
wasskottel gegooi en begin om sy dissipels se voete te was en dit dan af te
droog met die handdoek wat Hy omgehad het." Johannes 13:3-5
In Johannes 13 vers 3 sien ons dat die Heilige
Gees spesifiek die innerlike kennis waarin Jesus gerus het voordat Hy sy
dissipels se voete gewas het, vir ons toelig. Jesus was die ewige
God in menslike vlees en nogtans het Hy nie weggeskram om neer te buig en die
vuil voete van Sy dissipels te was nie. Waarom nie? Omdat Hy
geweet het waar Hy vandaan gekom het en waarheen Hy sou teruggaan.
Elkeen van ons het ‘n verskillende taak en in ‘n
sekere sin ‘n unieke roeping in die gemeente van Jesus. Ons kan elkeen op
individuele wyses uitdrukking gee aan die lewende Christus in ons vanweë ons onderskeie
persoonlikhede en gawes. Die vraag is egter of ons weet wie ons is.
Indien nie, sal ons altyd probeer om ons waarde te bepaal deur wat ons
doen of op grond van ons posisie in 'n gemeente of gemeenskap. Gevolglik
sal ons dan nooit regtig tot die plek van ware nederigheid en diensbaarheid kom
waar die Heilige Gees dieper in ons kan werk om Christus in en deur ons te
openbaar nie.
Dit is absoluut noodsaaklik vir die getuienis
van die gemeente dat ons, ons identiteit slegs in Christus sal vind en begin om
vanuit ‘n plek van rus en vervulling te dien in plaas van uit ‘n plek van innerlike
onvervuldheid.
No comments:
Post a Comment