Thursday, 1 August 2019

DIE GOEIE WERKE WAT REEDS VIR JOU VOORBEREI IS


"Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel."  Efesiërs  2:10 

Ons is nie net gered om hemel toe te gaan nie. God wil die oorvloed van Sy genade in en deur ons vertoon.   Ons kan egter nooit uit ons eie krag en vernuf goeie werke doen wat vir God aanneemlik is nie.   God het alreeds ons goeie werke vir ons voorberei.  Ons moet slegs gewillig,  wakker  en gereed wees om met Hom te wandel.    Daar is daagliks baie geleenthede rondom ons om te dien en ‘n seën te wees.  Hou jou oë oop vir die goeie werke wat God vir jou voorberei het.  Dit is net daardie werke wat ewige beloning inhou.

As ons in die ongeforseerde ritme van genade wandel, is hierdie lewe van diensbaarheid nooit vir ons ‘n las nie, hoewel dit baie opoffering mag vra.   Die rede waarom goeie werke (soos ons dink daaroor) soms vir ons meer van ‘n frustrasie as ‘n seën kan wees, is omdat ons die kruik verwar met die inhoud.   Ons is kruike van God se heerlikheid; ons is nie die heerlikheid self nie. 

God  het Christus in elke gelowige geplaas en Hy alleen is die Een wat die vrug in ons produseer.  Ons kan nooit vrugte dra wat God behaag as ons probeer om kunsmatige vrug van buite te dra nie.    Dit is slegs as ons in die wynstok (Christus) ingeënt is, dat ons spontaan vrug begin dra.   Elke gelowige het die heilige inhoud (Christus)  binne-in hom.  Wat ‘n vreugde is dit om te besef dat God nie van jou verwag om vrug in en deur jouself te dra nie. 

No comments:

Post a Comment