"En nou, broeders, dra ek julle op
aan God en aan die woord van sy genade, wat magtig is om julle op te bou en
julle ‘n erfdeel te gee onder al die geheiligdes." Handelinge 20:32
Na
drie jaar van bediening in Efese en voor sy vertrek na verdere velde van
bediening seën die apostel Paulus die ouderlinge in daardie gemeente met
hierdie kosbare doksologie. Hierdie "laaste
woorde" van Paulus is egter meer as net 'n doksologie. Dit is in 'n sin ook 'n opdrag.
Paulus
kon hulle opgedra het aan een of ander apostoliese leier, 'n spesifieke
kerkorde of 'n briljante bedieningstrategie, maar in plaas daarvan dra hy hulle
op aan God en baie spesifiek aan "die woord van sy genade". Hy het genoeg vertroue gehad in die meriete
van die ewige evangelie om te rus in die feit dat die inhoud van hierdie evangelie
in staat was om dissipels nie net te onderhou nie, maar ook op te bou.
Vir
drie jaar het hy hulle met goddelike ywer geskool in die boodskap van genade. Hierdie genade het hulle geroep, gewas, geregverdig,
geheilig en verenig met Christus en het derhalwe ook die krag gehad om hulle te
onderhou en te bou. Kyk bietjie wat sê
Paulus vir die gelowiges in Kolosse oor hierdie einste genade.
"Wat julle sowel as die hele wêreld
bereik het; en dit dra vrug, net soos onder julle ook, van die dag af dat julle
dit gehoor het en die genade van God in waarheid leer ken het." Kolossense
1:6
Paulus
het geen vertroue in die vlees geplaas of in mense se vermoë om ander mense op
die lange duur in waarheid te onderhou en te inspireer nie. Die sukses van sy bediening was direk
gekoppel aan die krag van die evangelie d.m.v. die openbaring van genade wat uitsluitlik
die harte van manne en vroue standhoudend kon inspireer. Alhoewel hy die "apostel van die
heidene" was, het hy geen vertroue in sy eie gawes of in 'n metodiek of
iets dergeliks geplaas nie. Sy intense
fokus was onbeweeglik geanker in die openbaring van genade wat deur die persoon
en verlossingswerk van Jesus Christus aan die lig gebring is.
"Maar wat nou geopenbaar is deur die
verskyning van ons Verlosser, Jesus Christus, wat die dood tot niet gemaak het
en die lewe en die onverderflikheid aan die lig gebring het deur die evangelie."
2 Tim. 1:10
"Want ek het my voorgeneem om niks
anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde." 1
Korinthiërs 2:2
Is
dit nie dalk tyd vir die gemeentes van God om die implikasies van hierdie en
soortgelyke tekste in die Nuwe Testament in kinderlike eenvoud en op sigwaarde te
omhels nie? Vertrou ons nie te dikwels
op menslike planne, organisasie en dinamiese leierskap om te doen wat slegs die
"woord van sy genade" in die indiwidu se hart kan doen nie? Moet ons nie liewer ons kragte inspan om
hierdie kosbare evangelie deur die werk van die Heilige Gees aan elke dissipel te
bedien totdat daardie hart geheel en al oorweldig is deur die openbaring van
genade nie? Ek los hierdie vrae by jou
vir biddende oorweging. Daar is geen
plaasvervanger in bediening vir die innerlike werking van God se genade in die
menslike hart nie.
No comments:
Post a Comment