"Want
die Here het Sion uitgekies, Hy het dit as woonplek vir Hom begeer en
gesê: ‘Dit is my rusplek vir ewig; hier wil Ek woon, want Ek het dit
begeer'." Psalms
132:13-14
Dit is absoluut verstommend dat die lewende God,
die Skepper van die eindes van die aarde en bewerker van die wye heelal ‘n
spesifieke plek gekies het om vir ewig te woon. Hierdie plek word in die
Bybel Sion genoem. As ons hierdie plek Sion kan bereik, is ons
verseker van ‘n nimmereindigende welstand, want waar God is, is daar
heerlikheid, seën en lewe wat vir ewig duur.
Waar is Sion dan? Die woord "Sion"
kom meer as 150 keer voor in die Bybel en het 'n besonderse geestelike
betekenis en waarde. As ons na die Ou
Testament gaan, vind ons dat Sion 'n vesting was van die Jebusiete. Toe Dawid dit van die Jebusiete afgeneem het
(Jos. 15:63; 2 Sam. 5:7,9), het hy ‘n stad en ‘n paleis daar gebou en dit het
bekend geraak as ‘die stad van Dawid’ (1 Konings 8:1). Sion is in die Ou
Testament geassosieer met die tempel en die teenwoordigheid van God (Ps. 2:6,
48:2; Jer. 31:6), as't ware die geestelike middelpunt van Jerusalem. Dit is die plek vanwaar Dawid sy heerskappy as
koning gevestig het.
As ons na die Nuwe Testament gaan, moet ons in
gedagte hou dat Jesus die teëbeeld van Dawid is en dus die ware Heerser oor
alles en almal (Ps. 2). In Hebreërs 12 vers 22 sien ons dat die gemeente van
die Here by die berg Sion en die stad van die lewende God gekom het, die
"hemelse Jerusalem". Hierdie "hoë grond" van die
fisiese Jerusalem verteenwoordig dus die hoogtepunt van God se ewige
doelstelling en heilige ekonomie waar die Ou Testament ‘n skadubeeld en prent
van die geestelike realiteite van die Nuwe Testament is. In hierdie
konteks neem die openbaring van die heerlike toekoms van die gemeente van God in
Efesiërs 2 vers 22 ‘n baie spesiale betekenis aan.
"…in
wie [Christus] julle ook saam opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees."
As die liggaam van Christus bevind ons,
ons in hierdie heerlike plek genaamd Sion en ons word nou opgebou tot ‘n ewige
woning van God. Wat ‘n voortreflike en wonderbare gedagte!
Die ewige en soewereine God gaan nie net vir ewig binne-in en tussen ons woon
nie, maar die Woord sê dat Hy spesifiek begeer om by ons te wees. Laat
ons derhalwe ons oë ophef bokant die tydelike en vlietende dinge van hierdie
wêreld en ons wedloop met vreugde voltooi, want ‘n onuitspreeklike heerlike
toekoms wag vir ons saam met die Een wat in die ewigheid woon.
"Uit
Sion, die volkomenheid van skoonheid, verskyn God in ligglans." Psalms 50:2
No comments:
Post a Comment