Tuesday, 6 August 2019

AARDSE REPUTASIE OF HEMELSE IMPAK: WAT VERKIES JY?


"Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was:  Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie,  maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word." Filippense  2:5-7 

Jesus het nie vasgehou aan sy posisie nie, maar dit vrywillig afgelê sodat Hy die Vader gehoorsaam kon wees en die sondige mensedom kon verlos.  Jesus kon as die Seun van God in menslike vorm verskeie posisies aangeneem het, maar Hy is in ‘n stal gebore as die seun van ‘n nederige timmerman.  Meer nog, in sy lewe op aarde was Hy nooit net bekend as die timmerman se seun met een of ander spesifieke talent nie, maar Hy was bekend as ‘n dienaar.  Jesaja 53 vers 2 sê 'Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie.’ 

Ons sien egter in die Nuwe Testament dat skares na Hom gestroom het.  Wat het hulle so aangetrek?   Hulle is aangetrek na sy wese, nie sy vorm nie.   Dit was die lewe binne-in Jesus wat mense na Hom toe aangetrek het, nie die omhulsel waarin daardie lewe toegedraai was nie.  Dit is absoluut noodsaaklik vir die gemeente van Jesus om hierdie les te leer.  Ons Skrifgedeelte uit Filippense is nie geskryf net om ons te vergewis van die nederige vorm wat Jesus op aarde aangeneem het nie, maar spesifiek om ons te vermaan om in hierdie verband in die voetstappe van Jesus te volg.  

Wanneer ons kyk hoe die wêreld werk,  sien ons dat dit alles oor die verpakking gaan. Wat vir die wêreld saak maak, is die uiterlike, die beeld of afbeelding daarvan.  Dit is waarom groot maatskappye honderdduisende rande daaraan bestee om die regte beeld by die publiek te skep.   As gemeente van die Here moet ons leer, en gou leer, dat dinge in die koninkryk van God nie so werk nie.  In elke enkele geval dwarsdeur die kerk se geskiedenis waar die kerk probeer het om dinge op ‘n wêreldse manier te doen, was dit ‘n geestelike mislukking.  Dit was nie noodwendig ‘n logistieke mislukking nie, maar definitief ‘n geestelike mislukking. 

Die Skrif leer baie duidelik en onomwonde dat God deur die gestalte van dienaars werk.  Hierdie is een van die groot toetse in die lewe van 'n dissipel.  Hoe verwys mense na jou?  Nog belangriker, hoe wil jy graag hulle moet jou sien?  Die vyand fokus altyd ons aandag op een of ander spesiale aspek van ons wat ons trots en eiewaan voed.   Is jy, of wil jy graag beskou word as die ‘vooraanstaande een, die skrander een, die geleerde een, of dalk die beeldskone een’?   Wat van ‘die hardwerkende een, die vrygewige een, die begaafde een, die musikale een’?   'n 'Man van invloed en mag’ is nog ‘n gesogte benaming.  En dan, ironies genoeg, is daar diegene wat graag die titel van die ‘nederige een’ wil hê.   

En dan is daar natuurlik die saak van titels.  Sommige mense hou so daarvan om ‘doktor’ of ‘professor’ of selfs ‘pastoor’ of ‘dominee’ genoem te word.  Hier is dit weereens ‘n saak van identiteit.  Die gelowiges wat aan ‘n vorm vashou, is dikwels diegene wat nog nie besef dat hulle ‘n totaal nuwe identiteit in Christus ontvang het en dat die uiterlike vorm dus nie meer van belang is nie.  Ons gaan almal deur verskillende vlakke en roepings in die lewe en derhalwe is die punt nie of jy ‘n professor of ‘n kelner is nie.  Die diepgaande vraag is hoe jy verkies om geken te word.  

Is ons smagting na ‘n reputasie in die gemeenskap nie een van die hoofredes waarom ons die krag van die Gees in die kerk verloor het nie?   God werk slegs kragtig deur nederige dienaars – mense sonder aansien.  Hy wil nie sy eer met mense deel nie.  As jy dit self wil doen, doen dit dan, maar moenie van God verwag om die Heilige Gees se stempel van goedkeuring op jou lewe af te druk nie.   

Daar is geen gebrek aan gawes in die kerk nie.  Die vraag ontstaan egter:  Is ons gewillig om óns aansien prys te gee sodat God Sý magtige teenwoordigheid deur dienaars kan manifesteer?   Hierdie prysgee van aansien is iets wat in jou eie hart moet begin.  Die toets vir ‘n geestelike man lê nie in sy prestasies en oorwinnings nie, maar in die effek wat daardie prestasies het op die dunk wat hy van homself het. Sal die kerk staande kan bly in hierdie belangrike saak of sal ons volkome swig voor die gees van hierdie wêreld en aansien kies liewer as heilige nederigheid en derhalwe hemelse krag?    

"Wees eensgesind onder mekaar; moenie na hoë dinge streef nie, maar voeg julle by die nederige..."  Romeine 12:16

No comments:

Post a Comment