'n Dissipel se belangstellings behoort toenemend
te skuif na die werklikheid van die koninkryk van God. Minder opgeneem met kos,
tuine, televisie, fone, rekenaars, klere, musiek, vakansies en die honderde
elektroniese afleidings van ons tyd. Meer met Jesus en Sy teenwoordigheid,
gebed, die Woord, die koninkryk wat ons erfenis is en ons sendingtaak in die
teenswoordige wêreld.
"Ek
bedoel dít, broers: die tyd is min. Van nou af moet dié wat getroud is, leef
asof hulle nie getroud is nie; en dié
wat bedroef is, asof hulle nie bedroef is nie; en dié wat bly is, asof hulle
nie bly is nie; dié wat iets aankoop, asof hulle dit nie besit nie. Ja, dié wat met die dinge van die wêreld te
doen het, moet leef asof hulle daar niks aan het nie, want hierdie wêreld soos
ons hom ken, is aan die verbygaan." 1 Korinthiërs 7:29-31
Maak los van die tydelike; die lieflike dimensie
van die ewige het oopgegaan in Christus.
Die leegheid van hierdie wêreld is eintlik verstommend, selfs met al die
moderne vermaak! As jy leef in en vir
hierdie wêreld gaan dit jou totaal ontnugter en depressief los. Dit is eers wanneer jy begin leef met jou hart
en denke in die geestelike dimensie waar jou lewe "saam met Christus
verborge is in God" (Kol. 3:3) dat jou lewe op aarde begin betekenis
kry. Eers dán begin jy perspektief kry
en begin jy die regte dinge na waarde skat en die vermoë ontwikkel om dit wat
bloot tydelik is in verhouding tot die ewige te beoordeel.
No comments:
Post a Comment