Thursday, 22 August 2019

STERK MEDISYNE VIR DIE DWAAS-DWALENDE HART VAN ADAM


Geen appél om jou rug te keer op die legio afleidings van die teenswoordige wêreld (wat klaarblyklik eksponensieël vermeerder in ons tyd) sal slaag as jy nie daarteenoor die heerlikheid en lieflikheid van God en gemeenskap met Hom met die geloofsoog sien nie.

Die Bybel verkondig nie 'n soort tandknersende asketisme (wel selfbeheersing vanuit die krag van die Christus-openbaring: 1 Kor. 9:27) om die vele versoekings van die wêreld te weerstaan nie (Kol. 2:20-23).  Dit openbaar liewer die lieflikheid en heerlikheid van God om in die lig van Sy aangesig die leegheid van die wêreld te openbaar en ons op te roep tot ware aanbidding (Kol. 3:1-4).  Niks anders sal ooit ons harte kan bevredig nie.

Ja sekerlik kan en moet ons leef in voortdurende dankbaarheid vir al die goeie gawes wat ons gegun word in die hier-en-nou.  As ek egter nie gedurig my hart daaraan herinner dat hierdie dinge tydelik en verganklik is en nie bedoel of ontwerp vir ewigdurende satisfaksie nie word die goeie gawes afgode wat my weglei van die enigste Bron van totale bevrediging en onuitspreeklike vreugde.

Maak asseblief 'n tydjie om rustig en biddend die tekste wat volg te bedink en let op dat die kragtige "teen-aantrekking" teenoor die wêreld se versoekinge altyd die lieflike heerlikheid van God is.

"Daarna bring die duiwel Hom op 'n hoogte en wys Hom in 'n oogwink al die koninkryke van die wêreld.  Toe sê die duiwel vir Hom: “Aan U sal ek al hierdie mag en majesteit gee, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil.  Dit sal alles aan U behoort as U maar net voor my buig en my aanbid.”  Daarop antwoord Jesus: “Daar staan geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.”  Lukas 4:5-8 

"Jesus antwoord en sê vir haar: Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry;  maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe." Johannes 4:13-14 

"Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie." 1 Johannes 2:15 

"Hom wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan júlle, sodat julle aan ons gemeenskap deel kan hê. En die gemeenskap waaraan ons deel het, is dié met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus." 1 Johannes 1:3 

"Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry." Filippense 3:8 


"En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is." 2 Korinthiërs 3:18  

No comments:

Post a Comment