Thursday, 8 August 2019

DIE WYNSTOK EN DIE LOTE


In die evangelie van Johannes openbaar Jesus op ‘n unieke wyse sy intieme verhouding met sy Vader.  Geen ander evangelie gee ons hierdie insig in die innerlike eenheid en intieme verhouding wat Jesus met Sy Vader gehad het nie.  So baie mense sien net die uiterlike woorde en dade van Jesus raak in die evangelies, maar Johannes openbaar vir ons Sy lewe agter die skerms. Hy trek die gordyn weg. Wat 'n onuitspreeklike voorreg om insae hierin te mag hê!

Die openbaring in die Johannes evangelie van Jesus se diepe verhouding met sy Vader is baie spesifiek bedoel om geloof in óns harte te wek dat so 'n verhouding nou ook vir ons moontlik is.  Ons verhouding tot Jesus is die van ‘n loot tot ‘n wynstok, ‘n lewende eenheid.  Hierdie intieme lewe van eenheid moet gevoed en gekoester word.  Net soos Jesus in Sy tyd op aarde totaal afhanklik was van die lewe en leiding van Sy Vader is ons ook nou afhanklik van Jesus.  Vergelyk byvoorbeeld Johannes 5 vers 19 met Johannes 15 verse 4 en 5:

 "Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie.  Want alles wat Hý doen, dit doen die Seun ook net so."

"Bly in My, soos Ek in julle.  Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie.  Ek is die wynstok, julle die lote.  Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie."

Kyk bietjie hoe Paulus op sy beurt hierdie kosbare waarheid beklemtoon in, onder andere, die boek Galasiërs:

"Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het." Gal. 2:20 

"My kinders, vir wie ek weer in barensnood is totdat Christus in julle ‘n gestalte verkry." Gal. 4:19 

Hier volg ‘n lys van tekste in Johannes wat aan ons die innerlike lewe van Jesus in Sy tyd op aarde openbaar:   Johannes 4:34; 5:19; 5:30; 6:38; 7:16; 8:26; 8:28; 8:38; 9:4; 12:49-50; 14:10; 14:24 en 14:31. 

Die inhoud van hierdie tekste is krities belangrik vir dissipels van Jesus.  Neem dit en maak dit jou eie.  Dit is bedoel om 'n legio verhoudingsmoontlikhede vir jou hart af te skilder sodat jy kan begin om te leef vanuit die lewe in die Wynstok soos wat jy jou eie wysheid, bronne en kragte laat vaar.

No comments:

Post a Comment