"Moenie die wêreld liefhê of die
dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde
van die Vader nie in hom nie. Want alles
wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van
die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die
wêreld." 1 Johannes 2:15-16
Kyk
bietjie hoe hierdie drie versoekinge van die wêreld teenwoordig was met die
sondeval en duidelik uitgespel word in die Bybel om ons insig te gee in die
wese van versoeking.
"Toe sien die vrou dat die boom goed
was om van te eet en dat hy ‘n lus was vir die oë, ja, ‘n boom wat ‘n mens kan
begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan
haar man by haar, en hy het geëet." Genesis 3:6
Die
"begeerlikheid van die vlees" is die versoeking om die wêreld te
geniet as 'n absolute wat totale satisfaksie kan bied, onafhanklik van 'n
dankbare gesindheid vir die goeie gawes van God en vergenoegdheid met dit wat Hy
"vandag" vir my bied.
Die
"begeerlikheid van die oë" is die versoeking om die wêreld in sy
huidige toestand te besit (materiële besittings en besitreg) as iets wat
ewigdurend is en dus onafhanklik van die goddelike visie van die "nuwe
hemel en aarde" wat nog in die toekoms is.
Die
"grootsheid van die lewe" is die versoeking om eer te ontvang in hierdie
tydelike wêreld, onafhanklik van God se ewige roeping en skeppingsdoel vir my
lewe en die belonings van die toekomstige bestel.
Die "liefde
van die Vader" is die Seun. As 'n
mens se lewe gekenmerk word deur 'n onophoudelike gejaag na tydelike en
materiële plesier, besittings en eer beteken dit eenvoudig dat jy nie die Seun
in sig het nie. Om die Seun te
"sien" met geopende geestelike oë gee vir jou 'n onvermydelike
begeerte om Hom te ken en hierdie begeerte is dan ook die oorheersende passie
van jou lewe.
"Een ding het ek van die HERE
begeer, dit sal ek soek: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van
die HERE, om die lieflikheid van die HERE te aanskou en te ondersoek in sy
tempel." Psalms 27:4
"Sodat ek Hom kan ken en die krag
van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood
gelykvormig word." Filippense 3:10
Ware
dissipels is nie gevrywaar van die drie versoekinge van hierdie wêreld nie,
maar hulle lewens word nie beheer deur die onversadigbare drang na tydelike
plesier, besittings en eer wat so kenmerkend is van ongelowiges nie. Hulle word daarteenoor gekenmerk deur die
passie om God toenemend te ken!
Wat is
jou passie? Waarvoor leef jy? Wat dryf jou? Waarheen is jy oppad? Vandag se begeertes is môre se realiteit en
daarom het jy nodig om in die hier-en-nou jou hart te toets en eerlik te wees
oor jou bevindinge.
No comments:
Post a Comment