As dit waar is, en dit is, dat "die volheid
van die Godheid" net in Christus beskikbaar is en dat alle dinge net "in
Hom stand hou" dan volg dit logies dat ons mees dringende behoefte in
enige moontlike situasie die openbaring van Christus is.
Die Vader het alle dinge onder die voete van
Jesus onderwerp en Hom as "Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee"
(Efes. 1:22). Daarom is die gebede van
die Nuwe Testament primêr gefokus op die openbaring van Christus, d.w.s. die
kennis, wysheid en insig wat die Heilige Gees skenk m.b.t. die teenwoordigheid
van Christus in ons.
So baie dinge in die tydelike, natuurlike
situasies op aarde trek ons aandag weg van hierdie fokus en eis dat dít die essensie
van ons gebede moet wees. Die Vader het
egter 'n ewige voorneme ("eternal purpose") en dit bepaal Sý agenda
vir elke gebeurlikheid op aarde.
"Sodat
nou deur die gemeente aan die owerhede en magte in die hemele die menigvuldige
wysheid van God bekend gemaak kan word, volgens
die ewige voorneme wat Hy opgevat het in Christus Jesus, onse Here." Efesiërs
3:10-11
Hoe moet ons dan bid? Siekte, finansiële probleme,
verhoudingsprobleme, probleme by die werk, moeilikheid in die familie, probleme
met die kinders, liefdeloosheid en onvergewensgesindheid, probleme in die land,
geweld en misdaad; al hierdie dinge en meer kan ons spesifiek voor bid, maar
hoe?
Is die "ewige voorneme" van die Vader
in Christus dan die bysaak en iets wat ons later in die hemel op kan fokus
terwyl ons liewer hier-en-nou dringend ons aandag moet skenk aan die tydelike
dinge? Nee. Die "goeie stryd van
geloof" is om in elke moontlike situasie op aarde ons oë op Christus te
vestig en in al ons gebede vir groter openbaring van Hom te bid. Die versoeking is om te redeneer "ons
het reeds vir Christus, nou het ons die ander dinge nodig". Dit is 'n fatale fout!
"Vader gryp asseblief in en onderneem vir
hulle in daardie krisis, maar openbaar in en deur alles U Seun! Vader voorsien asseblief vir daardie familie
die nodige fondse, maar openbaar U Seun.
Vader genees asseblief daardie kind, maar openbaar U Seun in en deur die
situasie. Vader gee asseblief reën in
droogte-geteisterde gebiede, maar bring veral die reën van Christus-openbaring in
harte wat geestelik "droog" is!
Vader, bring asseblief verandering in mense se harte sodat die golf van
geweld en misdaad gestop kan word, maar doen dit deur groter openbaring van U
Seun."
Evangelie-gerigte en koninkryksgefokusde gebede
gebaseer op die heerskappy van Jesus Christus in die harte van mense is die
enigste opsie vir wedergebore dissipels.
Die Vader gaan vir seker nie Sý fokus verander nie. Miskien is dit tyd dat ons die fokus van ons
gebede baie mooi ondersoek om seker te maak dat ons op Sy bladsy is.
No comments:
Post a Comment