Is daar in die Nuwe Testament 'n evangelie van
rykdom en voorspoed te vinde? Ja beslis,
maar hierdie rykdom en voorspoed het alles te doen met 'n Persoon, Jesus
Christus die Here van die heerlikheid.
"Aan
my, die geringste van al die heiliges, is hierdie genade gegee om onder die
heidene die evangelie van die onnaspeurlike rykdom van Christus te
verkondig." Efesiërs 3:8
Ons generasie is goed bekend met 'n rykdom-en-voorspoed evangelie, maar
ongelukkig is dit nie die een wat in die Nuwe Testament verkondig word
nie. Dit word gebou op tekste uit
konteks geneem en vernuftige argumente.
Die rykdom en voorspoed wat die Nuwe Testament werklik van praat, is
egter so duidelik dat selfs 'n kind dit kan verstaan. Hier is net 'n kort
uittreksel:
"Laat
niemand dan op mense roem nie, want alles behoort aan julle; of dit Paulus is of Apollos of Céfas of die
wêreld of lewe of dood of teenswoordige of toekomstige dinge—alles behoort aan
julle; maar julle behoort aan Christus,
en Christus aan God." 1 Korinthiërs 3:21-23
"As
bedroefdes, maar altyd opgeruimd; as armes, maar wat baie ander ryk maak; as mense
wat niks het nie en tog alles besit."
2 Korinthiërs 6:10
"So
gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is in God nie."
Lukas 12:21
"Dat
hulle harte vertroos mag word, deurdat hulle saamgevoeg word in die liefde en
tot alle rykdom van die volle versekerdheid van insig, om die verborgenheid te
leer ken van God en die Vader en van Christus." Kolossense 2:2
"Ek
ken jou werke en verdrukking en armoede maar jy is ryk..." Openbaring 2:9
En daarteenoor die teenoorgestelde gesindheid
van 'n ander gemeente:
"Want
jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet
nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is
nie. Ek raai jou aan om van My te koop
goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou
kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om
jou oë te salf, sodat jy kan sien." Openbaring 3:17-18
En dan natuurlik die bekende vers wat so
verdraai word vandag. Watter voorspoed dink
jy word hier van gepraat in die konteks van die hele Nuwe Testament?
"Die
dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe
en oorvloed kan hê." Johannes 10:10
Hoe definieër jý “lewe in oorvloed”? Ons
moet met alles in ons die rykdom "in God" najaag. In ons denke, woorde en dade moet dit
duidelik wees dat ons Jesus bo alles beskou as ons ware rykdom en
voorspoed.
Ons het hierdie rykdom reeds ontvang met
wedergeboorte, maar ons moet daagliks daarin leef en ons verheug in die
"onnaspeurlike rykdom van Christus".
No comments:
Post a Comment