"Die
boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig
mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms,
lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing." Kolossense
3:16 (NAV)
Ware gemeentelewe het volgens hierdie vers alles
te doen met die Woord van Christus wat ryklik in alle dissipels woon (nie net in
pastore en dominees nie) en dan die spontane en vreugdevolle lering, onderrig
en lofprysing wat vloei vanuit vervulde harte.
Ons ontvang die oorwinning van die evangelie met ons hárte in geloof, nie
uit wilskrag of menslike inspanning nie.
Jesus het oorwin aan die kruis. Dit was ‘n absolute sukses en daarom is hy opgewek
en verheerlik aan die regterhand van die Vader.
Ons moet ten volle oortuig wees dat hierdie oorwinning ons insluit voor
die volheid van die Heilige Gees sal deurbreek in ons lewens.
Wanneer die heerlikheid van die Heilige Gees
deurbreek in blydskap is jou fokus nie meer op mense en wat hulle van jou dink
nie. Voortaan kan jy God aanbid vry van vormgodsdiens
en ritueel. Jy het gesterf vir mense se
opinies en jou aandag is nou op God alleen.
Vanuit oortuiging en dan blydskap in die Gees
kan ons ‘n lewe van diensbaarheid begin leef. Hierdie lewe is ‘n kruislewe, waar die Heilige
Gees ons kan gebruik net soos Hy wil om ander mense te dien en te bedien met
Goddelike liefde. Sonder hierdie
bonatuurlike Heilige Gees liefde is is ons niks en is alles wat ons doen op
hierdie aarde nutteloos en waardeloos (sien 1 Kor. 13).
Dit is net vanuit oortuiging, uitbundige lof aan
God en die krag van God se liefde wat deurbreek in ons harte dat ons op ‘n pad
gesit word van bediening aan mense waar ons nie meer so self-gerig en
self-bewus sal wees nie. Slegs dan sal
ons vryelik die Woord onder mekaar begin spreek met blydskap en dankbaarheid.
No comments:
Post a Comment