Dit
is inderdaad rewolusionêr om te besef dat ons in en deur onsself onhervormbaar
is. Daarom is die essensie van die Christelike lewe nie om te vra dat Jesus my
help om 'n beter Christen, man, vrou, kind, pa of ma te wees nie, maar om eens
en vir altyd vaarwel te sê vir my onafhanklike self en in geloof te aanvaar dat
God se plan nog altyd was "nie ek nie, maar Christus" (Gal. 2:20).
Ons
gee op en raak moedeloos, omdat ons moeg raak om onsself te probeer verander.
Miskien help dit om te besef dat nie eers God probeer om ons te verander (soos
wat ons gewoonlik dink oor verandering) nie. Sy plan was om ons te kruisig in Sy Seun en dan hierdie Seun
in ons te gee as ons nuwe lewe en ons enigste hoop op heerlikheid (Kol. 1:27).
Probeer
jy nog jouself, of jou man of vrou verander? Hoekom? Mense kan nie in hulle
wese verander nie. Verander liewer jou hele perspektief
en begin leef in geloof dat Christus
in jou gevorm word (Gal. 4:19) en dan deur jou die nuwe lewe van liefde begin leef.
Dit is die enigste basis vir wáre geestelike groei. Spoor dan ook die mense in
jou lewe op hierdie manier (geloof in
Christus in ons) aan tot 'n lewe van liefde (Heb. 10:24).
Is
die groot geestelike geveg waartoe ek opgeroep word dus in die eerste plek ongeregtigheid
en onheiligheid of is dit eie-geregtigheid en eie-heiligheid. Dit is vir seker
laasgenoemde, want ek kan nooit regverdig (righteous) of heilig wees in myself nie.
Nooit. My geregtigheid en heiligheid is in Christus (1 Kor. 1:30). Nooit, maar
nooit, in myself nie. Daarom is die daaglikse geestelike geveg van my lewe om
my eie-geregtigheid en gewaande heiligheid te verloën en in geloof (die
oorwinning is slegs in geloof) te leun op die geregtigheid en heiligheid van
Jesus in my.
"True repentance says 'I can't'
and true faith says 'Christ can'." Ian Thomas
No comments:
Post a Comment