Ons kan 'n
kondisie van genade ("a state of grace") beskryf as 'n konstante innerlike
vloei van die lewe en liefde van Christus wat my eie ywer as 'n dissipel as't
ware oortref en keer op keer verbysteek soos wat ek God se kragtige werking
binne-in my ervaar (Fil. 2:13). Dit kan
ook beskryf word as 'n innerlike heerskappy wat 'n bepaalde uiterlike effek en
manifestasie het.
"Want as ten gevolge van die misdaad van die één
die dood geheers het deur die één, veel meer sal hulle wat die oorvloed van die
genade en van die gawe van die geregtigheid ontvang, in die lewe heers deur die
Één, Jesus Christus." Romeine 5:17
Slegs hierdie
kondisie van genade bring die onbeskryflike verruiming van hart en onkeerbare, bo-menslike
liefdesinisiatiewe wat ons in die blaaie van die Nuwe Testament sien.
Die vraag is egter
hoe kan ons uitkom by hierdie kondisie van genade? Die antwoord wat die Nuwe Testament gee op
hierdie vraag is werklik verstommend.
Dit is slegs deur ons geloofsgreep op ons posisie van genade in Christus
wat ons ooit sal uitkom by hierdie kondisie.
"Tot lof van die heerlikheid van sy genade
waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde." Efesiërs 1:6
"Deur wie ons ook deur die geloof die toegang
verkry het tot hierdie genade waarin ons staan; en ons roem in die hoop op die
heerlikheid van God." Romeine 5:2
Ons is "begenadig
in die Geliefde" en ons het 'n stand in genade, maar ons het nodig om ons tot
so 'n mate te verlustig in hierdie posisie van genade in die teenwoordigheid
van God (dit is die geloofslewe) dat die kondisie van genade 'n onvermydelike
werklikheid kan word. Dit is ongetwyfeld
God se wil vir elkeen wat reeds "staan in genade", m.a.w. alle
dissipels van Jesus.
So waarom sien ons
nie vandag meer van die kondisie van genade en die lieflike vrug wat dit bring
nie? Miskien omdat ons in ons eie krag
en ywer probeer om dit te bewerkstellig wat slegs kan realiseer vanuit 'n
posisie wat ons reeds as 'n geskenk ontvang het.
"Hy wat julle dan die Gees verleen en kragte
onder julle werk, doen Hy dit uit die werke van die wet of uit die prediking
van die geloof?" Galasiërs 3:5
No comments:
Post a Comment