Die enigste manier
wat ons sin kan maak van die radikale dissipelskapterme in die vier evangelies
is wanneer ons dit sien in die lig van die absolute en finale onderskeid tussen
ons ou en nuwe identiteit.
"As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader
en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe
nie, kan hy my dissipel nie wees nie." Lukas 14:26
"En Hy sê vir almal: As iemand agter My aan wil
kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg." Lukas9:23
"Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit
verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind." Mattheüs
16:25
Ons sien aan die
begin van die evangelies en ook in die boek Handelinge dat die evangelie van
die koninryk aangekondig word as verstommende goeie nuus en dat daar 'n
onmiddellike oproep is om ons te bekeer (weg te draai van die ou identiteit in
onsself) en te glo (die nuwe identiteit in Christus te omhels).
Voordat jy nie met
bonatuurlike insig begin sien wat hierdie nuwe identiteit en nuwe lewe in
Christus werklik behels nie, sal die radikale karakter van die oproep om die ou
identiteit en die hele ou skepping vaarwel toe te roep altyd vir jou iets vaag,
vreemd en selfs verbysterend wees.
"Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe
skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword." 2 Korinthiërs
5:17
Histories het die
kruisdood van Jesus Christus absolute skeiding tussen die ou en nuwe skepping
gebring. Vanuit God se perspektief was
dit finaal en onomkeerbaar. Die vraag is
egter of ek en jy al die finaliteit van die kruis as 'n werklikheid omhels
het.
Dit beteken prakties
dat ons hele hartsfokus en waardestelsel van die aardse na die hemelse skuif
(Kol. 3:1-4) en dat ons voortaan leef as "bywoners en vreemdelinge"
op die aarde (1 Pet. 2:11). Maar
"vreemdelinge" wat voortdurend ander mense oproep om ook die oorgang
te maak van die oue na die nuwe.
No comments:
Post a Comment