Daar is nie een enkele
stelling in die hele Nuwe Testament wat die leer van individuele bloedlynvloeke ondersteun
nie. Inteendeel, die Nuwe Testament verkondig helder en duidelik dat die vloek
van die universele Adamiese gevallenheid universeel opgehef word IN CHRISTUS.
"Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe
skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword." 2 Korinthiërs 5:17
Hierdie stelling
van Paulus is of waar of dit is nie waar nie.
Moenie probeer (of waag) om dit te relativiseer nie. Dit is 'n absolute, kategoriese en onaanvegbare
feit.
Daarom gee Paulus ook
vir Timotheüs instruksies om sogenaamde "leraars" te beveel om hulle
nie besig te hou met die vrugtelose oefening om vloek óf seën te probeer vind in
geslagsregisters (individuele bloedlyne) nie.
"Soos ek jou versoek het toe ek na Macedónië op
reis was, moet jy in Éfese wag om sekere persone te beveel dat hulle geen ander
leer moet leer nie, en hulle nie besig hou met fabels en eindelose
geslagsregisters nie, wat net twisvrae bevorder meer as stigting van God wat in
die geloof is." 1 Timotheüs 1:3-4
Alle mense deel
aan die universeel vervloekte bloedlyn van die gevalle Adam deur natuurlike
geboorte en al die data wat valse of verwarde leraars wil voorhou van
sogenaamde bevrydings van bloedlynvloeke moet noodwendig eksklusief binne die
bestek van hierdie Bybelse stelling verklaar word, of anders is dit misleidend
en potensieël destruktief. Dit dompel
jou in 'n maalkolk van verwysingslose subjektiwiteit.
Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld
ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense
deurgedring het, omdat almal gesondig het.
Romeine 5:12
Genadiglik het
alle mense egter ook die voorreg om te deel aan die geseënde bloedlyn van die
laaste Adam (Christus) deur die "gawe van geregtigheid" te ontvang
deur geloof.
Want as ten gevolge van die misdaad van die één die
dood geheers het deur die één, veel meer sal hulle wat die oorvloed van die genade
en van die gawe van die geregtigheid ontvang, in die lewe heers deur die Één,
Jesus Christus. Romeine 5:17
"So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam,
het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees." 1 Korinthiërs
15:45
"Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan
sy saad. Hy sê nie: En aan die sade, asof dit op baie sien nie, maar op een: En
aan jou saad, dit is Christus." Galasiërs 3:16
Ons het nodig om universeel te dink, nie in die eerste plek individueel nie. Lees Romeine 5 verse 12 tot 21 en vra jouself af of daar nog enige gronde is vir hierdie subjektiewe, individualistiese soort leringe. God hanteer die hele mensdom m.b.t. slegs twee mense, die eerste en die laaste Adam.
Daar is nie een
enkele opdrag in die hele Nuwe Testament wat navorsing oor ons bloedlyne
regverdig nie. Inteendeel, die Nuwe
Testament eis met 'n dringende appél dat ons die herkoms van ons Here Jesus
Christus navors en ons identiteit dáár vind.
"Sonder vader, sonder moeder, sonder
geslagsregister, sonder begin van dae of lewenseinde, maar gelykgestel aan die
Seun van God, bly hy priester altyddeur." Hebreërs 7:3
"Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie
meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek
deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my
oorgegee het." Galasiërs 2:20
" As julle dan saam met Christus opgewek is, soek
die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. Bedink die
dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. Want julle het gesterwe, en
julle lewe is saam met Christus verborge in God." Kolossense 3:1-3
Hoe 'n mens ookal
mag voel oor die stryd wat mense het om volle verlossing en bevryding te beleef
(en ek het baie simpatie en empatie daarmee); die feit bly staan dat as jy jou
eie geskiedenis (en die van jou familie) meer gewig laat dra as die geskiedenis
(universeel historiese feite) van die Nuwe Testament is jy besig om die dood en
opstanding van Jesus Christus te minag.
D.w.s. jy ag dit nie genoegsaam nie.
Ek verstaan
werklik dat dit waarskynlik pynlik is vir sommige mense om te hoor, maar watter
mate van verlossing of bevryding jy ookal beleef het, herlei dit na die evangelie,
nie na een of ander subjektiewe bevryding van bloedlynvloeke nie. Sodoende bewaar jy die integriteit van die
universele meriete van Jesus se dood en opstanding en staan jy vas en vir ewig
gegrondves in die eeue-oue Goeie Nuus wat miljoene mense regdeur die
geskiedenis bevry het van elke moontlike soort binding wat Adamiese
gevallenheid tot gevolg gehad het.
As jy bloedlyne
wil navors gaan al die pad terug tot by oer-oupagrootjie Adam...maar moenie
daar stop nie. Dink nog verder terug
(binne die Bybelse kader) tot in die ewige verlede en jy sal vind dat jou
identiteit 'n ander oorsprong het; in
die hart van 'n hemelse Vader.
"Soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die
grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te
wees." Efesiërs 1:4
"Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader
van onse Here Jesus Christus, van wie elke geslag in die hemele en op die aarde
sy naam ontvang." Efesiërs 3:14-15
No comments:
Post a Comment