"Bitterbessie dagbreek, bitter bessie son, 'n spieël het gebreek tussen my en hom..." Ingrid Jonker
" Soos in die water aangesig teenoor aangesig is, so is die hart van die mens teenoor die mens." Spreuke 27:19
Ware verhouding tussen mense is baie dieper as wat ons dikwels dink. Dit is as't ware soos 'n spieël waarin ek kyk en wederkerige respek, waardering, vriendelikheid (kindness) sien. Daar is 'n onsigbare transaksie tussen harte wat amper onmoontlik is om in woorde te verduidelik. Hierdie wisselwerking het vir seker ten diepste te doen met die ware ontwerp en oorsprong van die mens.
"En
God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape;
man en vrou het Hy hulle geskape."
Genesis 1:27
Hierdie waarheid het betrekking op alle verhoudings van alle mense in alle nasies en kulture, maar na wedergeboorte word die spieël tussen ons iets meer. Nou word die beeld as't ware beduidend verskerp in terme van ons eenheid in Christus; d.w.s. "in die aangesig van Christus" (2 Kor. 4:6).
Dit mag dalk vir jou baie misterieus en selfs misties klink, maar ons almal weet hoe dit voel wanneer daar 'n verhoudingsbreuk is met mense naby aan ons. Die spieël het gebreek. Die refleksie van waardering, respek en vriendelikheid is ónderbreek. Wat nou gemaak?
"Pas
op vir julleself. En as jou broeder teen jou sondig, bestraf hom; en as hy
berou kry, vergewe hom. En as hy sewe maal op ‘n dag teen jou sondig en sewe
maal op ‘n dag na jou terugkom en sê: Ek het berou—moet jy hom vergewe." Lukas 17:3-4
As jy hierdie vers lees en al wat jy sien is vergifnis, moet jy weer lees. Let mooi op na die frases "as hy berou kry" en "terugkom en sê: ek het berou". Dit gaan nie net oor vergifnis nie, maar ook oor versoening en herstelde verhouding. Daardie spieël moet bonatuurlik deur God herstel word.
As iemand (of soms albei) die spieël tussen julle gebreek het, moet daai drie moeilike woordjies ("ek is jammer": sien die NAV van vers 4) in opregtheid geuiter word voor daar werklik versoening en herstelde verhouding kan wees. Anders is dit 'n aanmekaargeplakte spieël en die verhouding sal nooit maar nooit weer dieselfde wees nie, want die beeld is nou verwronge. Die meeste van die tyd lei dit dan net tot geleidelike verwydering van mekaar of 'n spieël wat die volgende keer in 'n duisend stukke spat en gewoonlik herstel so 'n verhouding nooit.
Jy kan en moet die persoon voor God en in jou hart vergewe, maar versoening en herstelde verhouding vind nooit plaas sonder erkenning dat daar geloop is oor die spieël tussen ons nie. Dit is die wese van verhouding en God self het dit so ontwerp toe Hy ons geskep het na die beeld en gelykenis van Sy Seun.
No comments:
Post a Comment