Glo jy aan 'n evangelie wat mense verander of net aan 'n evangelie wat mense vergewe vir hulle onveranderlike kondisie? Miskien is jou antwoord: "die evangelie wat my man, vrou, kind of buurman kan verander moet nog ontdek word"! Of as jy jouself bietjie beter ken..."wat mý werklik en deurgrondelik kan verander".
Miskien is jy
reg. Miskien is daardie evangelie nog
nie ten volle ontdek in ons tyd nie. Hmmm... Die goeie nuus is egter dat daardie evangelie
steeds nêrens anders gevind kan word as in die blaaie van die Nuwe Testament
nie. Ons hoef nie iewers anders te gaan
soek nie, ons moet dalk net weer en die keer bietjie dieper gaan kyk.
Dit is regtig hoog tyd dat ons die verskraalde
evangelie wat nét fokus op vergifnis van sondes agterlaat en aanbeweeg na die
volle boodskap.
"Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe
skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword." 2 Korinthiërs 5:17
"Julle is ons brief, geskrywe in ons harte, geken
en gelees deur alle mense." 2
Korinthiërs 3:2
Dit is net
verstommend hoe daar duisende debatte op die internet is oor elke moontlike
teologiese kwessie, maar die reuse olifant in die kamer, naamlik onveranderde
lewens, kry bykans geen lugtyd nie!
"Want in Christus Jesus het nòg die besnydenis
nòg die onbesnedenheid enige krag, maar ‘n nuwe skepsel. En mag daar vrede en
barmhartigheid wees oor almal wat sal wandel volgens hierdie reël, en oor die
Israel van God!" Galasiërs 6:15-16
Dit is vir seker so
dat daar geen mens nog ooit beduidend verander het sonder die bediening van die
Heilige Gees nie, maar die Heilige Gees werk áltyd op grond van ons
identifikasie met Christus voor die grondlegging van die wêreld (Efes. 1:4) en
die afgehandelde werk van Jesus in tyd (Rom. 5:12-21).
"Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit
wat aan My behoort, en aan julle verkondig." Johannes 16:14
Kom ons staan gou
stil by die drie bedieningslyne waarlangs die Heilige Gees volgens die Nuwe
Testament altyd beweeg wanneer Hy
verandering bring.
VOLMAAK: Jesus is volmaak en Sy verlossingswerk was
volmaak en dit is vir ewig afgehandel.
Niks kan daar bygevoeg word nie.
Ons kan geen ander plek begin nie.
Die Heilige Gees wil altyd eers ons aandag afkry van ons onvolmaakte
kondisie en ons ten volle laat fokus op die volmaakte Jesus en sy volmaakte
werk. Jesus se volmaaktheid help óns
egter niks as ons nie ten volle met Hom geïdentifiseer is nie, maar die
evangelie verkondig juis dat ons ís!
"En in verbondenheid met Hom deel julle in sy
volheid...." Kolossense 2:10 (NAV)
'n Goeie vraag om
dadelik te vra is "waar is daai volmaaktheid"? Dit is in jou gees, waar jy verenig is met
Christus (1 Kor. 6:17). Jy is gees, siel
en liggaam (1 Thes. 5:23) en al voel of beleef jy nie die volmaaktheid nie het
jy nodig om te GLO wat die Bybel sê. Die
werklikheid in jou gees kan op geen ander manier deurwerk na jou siel en
liggaam nie.
AFGESONDER: Die tweede lyn waarlangs die Heilige Gees ons
kosbaar en wonderlik bedien in hierdie proses is die waarheid van volkome
afsondering. Dit is 'n waarheid wat ons
generasie amper nog swaarder aan sluk as die eerste een. Die Heilige Gees neem eerstens ons oë van
onsself af en rig dit op Christus. Dan
wys Hy vir ons dat ons nie in die volheid van die nuwe lewe en identiteit kan
wandel as ons nie bereid is om te aanvaar dat ons volkome afgesonder is van
beide die sekulêre en godsdienstige wêreld en selfs ons eie idees van wie óns
is nie. Kyk na die volgende tekste in hierdie
lig.
"En die HERE het aan Abram gesê: Gaan jy uit jou
land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal
wys." Genesis 12:1
"Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan
sy saad. Hy sê nie: En aan die sade, asof dit op baie sien nie, maar op een: En
aan jou saad, dit is Christus." Galasiërs 3:16
"Maar toe dit God behaag het, wat my afgesonder
het van die skoot van my moeder af en deur sy genade geroep het." Galasiërs 1:15
"Want die woord van God is lewend en kragtig en
skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die SKEIDING VAN SIEL
EN GEES [my beklemtoning] en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die
oorlegginge en gedagtes van die hart."
Hebreërs 4:12
"Maar wat my betref, mag ek nooit roem nie,
behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my
gekruisig is en ek vir die wêreld."
Galasiërs 6:14
Is jy bereid om
die Heilige Gees te volg op hierdie pad.
Terloops, Hy word nie verniet die HEILIGE Gees (Gees van afsondering)
genoem nie. Hy sonder jou eers af van
alles en almal en wys jou toenemend dat jou lewe IN CHRISTUS alleen gevind word
en dan kan Hy eers begin om jou werklik te gebruik in jou omgewing waar Hy jou
geplaas het. Niemand kan ander effektief
bedien as hy self verstrengel is in hulle gevalle werklikheid nie.
VERVUL MET LIEFDE: Nou eers begin die volheid van die Goddelike
liefde kragtig deur ons bruis soos strome van lewende water en word ons van dag
tot dag gedring deur 'n liefde wat nie van onsself kom nie.
"Want die liefde van Christus dring
ons." 2 Korinthiërs 5:14
"En die hoop beskaam nie, omdat die liefde van
God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee
is." Romeine 5:5
"Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van
lewende water sal uit sy binneste vloei."
Johannes 7:38
Nou eers kan ons
in Bybelse gebrokenheid begin bedien.
Nog iets wat ons vandag nie veel van sien nie.
"En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou
genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my
swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon." 2 Korinthiërs
12:9
"Ek was ook by julle in swakheid en in vrees en
in veel bewing; en my rede en my prediking was nie in oorredende woorde van
menslike wysheid nie, maar in die betoning van gees en krag." 1 Korinthiërs
2:3-4
Die populêre idees
van liefde vandag is so vêr verwyder van hierdie bonatuurlike liefde soos wat
ons planeet verwyder is van die verste sterrestelsel in ons heelal. Dit is 'n onbeskryflike liefde en ons generasie
het hierdie Goddelike liefde so nodig.
Dit kan egter nooit realiseer in die liggaam van Christus as ons nie
eers langs die lyne van volmaaktheid en afsondering IN CHRISTUS bedien word
nie. En verder moet ons sekerlik ook erken
dat die boodskap van liefde heeltemal verwronge is vandag en juis so fataal
skeefgetrek is omdat dit nie binne die konteks van afsondering (heiligheid)
verstaan word nie.
Miskien kan ons
dan nog net vir mekaar vra: "Is jy tevrede om aan te gaan soos jy is in
die hoop dat God ons growwe verwaarlosing van die volle evangelie op een of
ander manier sal oorsien of is jy bereid om oor te gee aan die bediening van
die Heilige Gees langs die drie lyne van hierdie kosbare evangelie wat alleen ware
verandering kan bring in ons almal se lewens"?
No comments:
Post a Comment