Die konings in Kanaän verteenwoordig spesifieke areas in my siel waaroor ek nog nie volkome oorwinning het in die praktyk nie. Dit is ongetwyfeld God se wil dat ek hierdie "konings" oorwin. Die vraag is egter: "Hoe kry ek die oorwinning"?
Daar moet sekerlik
iets beter wees as om maar te wag tot ons eendag "pappa se humeur" of
"mamma se skerp tong" saam met hulle kan begrawe. Dan wonder mense miskien hoekom die familie
na die begrafnis nie net koffie en melktert bedien nie, maar sjampanje ook! Daar
is nie net hartseer nie, maar ook iets om te vier; ons hoef nie meer saam te
leef met daardie humeur of skerp tong nie!
Maar in alle erns,
daar is 'n beter manier. Soms hoor ons daar
word gesê, die Bybel leer nie die uitwissing (eradication) van inwonende sonde
nie. Ja, dit is so, want Romeine 6 vers
1 sê nie die sonde het in ons gesterf nie, maar dat ons in Christus dood is VIR
die sonde. Ons moet dit dan ook so
"reken".
"So moet julle ook reken dat julle wel vir die
sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here. Laat die
sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede
gehoorsaam sou wees nie." Romeine 6:11-12
Dit beteken egter
geensins dat ons nie in die praktyk (en voor ons uiteindelike begrafnis!) baie
spesifieke oorwinning kan kry oor "werke van die vlees" (Gal.
5:19-21) nie. Soms haal mense Romeine 7
vers 19 aan asof dit in al die areas van my lewe waarmee ek sukkel ad infinitum
my ervaring sal bly.
"Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die
kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek."
Diesulkes het nodig
om 'n bietjie aan te lees en op te let na die lering van Romeine 8! En miskien ook bietjie terug in Romeine 6.
"Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want
julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade." Romeine 6:14
"Daarom dan, broeders, is ons skuldenaars, nie
aan die vlees om na die vlees te lewe nie; want as julle na die vlees lewe, sal
julle sterwe, maar as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak,
sal julle lewe." Romeine 8:12-13
Kyk ook na die
"maak dood" en "lê af" opdragte in Kolossense 3:
"Maak dood dan julle lede wat op die aarde is,
naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat
afgodediens is." Kolossense 3:5
"Maar nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik
toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond. Lieg nie vir
mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het." Kolossense
3:8-9
So wat is dan die gebalanseerde Bybelse leer oor oorwinning in Kanaän (d.w.s. oorwinning oor sonde)? Hier is 'n kort opsomming:
- ·
Daar
is oorwinning in die praktyk beskikbaar in Christus!
- ·
God
verwag van ons om in Christus te heers (soos wat 'n koning heers) oor sonde.
- ·
Die
leer van sondelose volmaaktheid is onskriftuurlik, maar net so is die leer van
saamleef met spesifieke sondes in my lewe vir dekades lank.
- · Ek het nodig om baie pertinent die konings te identifiseer (vra die Here spesifiek) wat wederregtelik heers in my siel en dan proefondervindelik deur die oorwinning van Christus (Romeine 5:12-7:6) en die krag van die Gees (Romeine 8; Gal. 5:16) daardie grond in te neem wat reeds vir my gegee is in Christus (Josua 1:3-6).
- ·
Sondes
wat ek oorwin het, kan weer 'n probleem raak in my lewe en daarom moet ek
waak. Maar daar is 'n plek van baie
spesifieke oorwinning in my lewe waar ek en almal om my kan sien ek is nou vry
van daardie hardnekkige sondes; dikwels temperamentsondes (besetting sin)!
- ·
Ons het dus meer as net 'n posisie van geregtigheid
ontvang in Christus. Ons het ook
"heiliging" in Hom ontvang (1 Kor. 1:30). Jesus is 'n volkome Verlosser. Glo dit!
- ·
Vermy
die twee ekstreme posisies: Sondelose volmaaktheid aan die een kant of jou hele
lewe lank saamleef met sondes aan die ander kant.
- ·
Ons
mag dus nooit tevrede wees met 'n halwe verlossing nie. Moet nooit vrede maak met sonde nie. Oorwin
daai konings. Die oorwinning is joune in
Christus!
Moet nooit ander mense se standaard van
Christenskap jou maatstaf maak nie. Al leef almal om jou in 'n verslae staat
van nederlaag op nederlaag, staan jy op en "wees sterk in
Christus". Glo die Bybel, nie ander
mense se ervaring óf jou eie van die verlede nie. Jy hét gesterf vir die sonde in Christus!
"Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly,
dat die genade meer kan word? Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf
het, hoe kan ons nog daarin lewe?" Romeine
6:1-2
No comments:
Post a Comment