"Elke plek waar julle voetsool op sal trap, dit gee Ek aan julle, soos Ek met Moses gespreek het." Josua 1:3
"Niemand
sal voor jou standhou al die dae van jou lewe nie; soos Ek met Moses gewees
het, sal Ek met jou wees; Ek sal jou nie begewe en jou nie verlaat nie. Wees
sterk en vol moed; want jy sal hierdie volk die land laat erwe wat Ek hulle
vaders met ‘n eed beloof het om aan hulle te gee." Josua 1:5-6
Josua het die opdrag gekry om die beloofde land in besit te neem en elke liewe koning in die grondgebied wat God vir Israel gegee het te oorwin. Dit was grondgebied wat God reeds vir Israel gegee het as hulle eiendom en erfenis, maar om ten volle besit te neem daarvan het beteken dat hulle die vestings van die vyand moes inneem.
Wat beteken hierdie stukkie geskiedenis vir ons vandag? Net eenvoudig dat ons reeds alles in Christus ontvang het, maar dat daar steeds vestings in ons siel is wat oorwin moet word. In ons gees het ons die volheid ontvang, maar in ons siel is daar vestings wat ingeneem moet word.
"En
die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid,
ongebondenheid; afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid,
naywer, tweedrag, partyskap; afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike
dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat
sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie." Galasiërs 5:19-21
Let op die gevegstaal in die volgende gedeeltes oor heiliging in die Nuwe Testament:
"Maak
dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog,
slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is." Kolossense 3:5
"Daarom
dan, broeders, is ons skuldenaars, nie aan die vlees om na die vlees te lewe
nie; want as julle na die vlees lewe, sal julle sterwe, maar as julle deur die
Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe." Romeine 8:12-13
Die goeie nuus is dat Jesus ons Josua is. Dit beteken ons vyande is eintlik Sy vyande. Hy het reeds oorwin aan die kruis en daarom is die oorwinning oor die konings in ons sielsarea gewaarborg. Ons verantwoordelikheid is primêr geloof in die krag van ons Josua wat in ons woon (Gal. 2:20) en dan om Hom te volg in gehoorsaamheid soos wat Hy uittrek teen ons vyande.
"Stry
die goeie stryd van die geloof..." 1
Timotheüs 6:12a
'n Baie belangrike faktor wat ons egter nooit uit die oog moet verloor nie, is dat ons net oorwinning kan behaal oor vyande wat ons identifiseer as vyande. As ek nie die vestings van die vlees in my siel identifiseer en Jesus volg in die oorwinning oor daardie vyande nie sal daar logies ook nie oorwinning wees nie. Moet nooit vrede maak met daardie konings (bv. Gal. 5:19-21) nie. Identifiseer hulle en volg Jesus dan in die oorwinning oor hulle.
No comments:
Post a Comment